Oggenddiens: 23 Februarie 2003.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 30:7.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 99:4, 5.
Gebed.
Psalm 86:3.
Skriflesing: Psalm 145.
Teks: Kategismus Sondag 45. Psalm 145: 18
Die
Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid
aanroep. Aan die wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle
om hulp roep en Hy red hulle.
In ons aanloop na die Heilige Nagmaal toe, moet ons tog baie bid. In
hierdie diens leer ons weer nuut van die Here waarom die gebed so
belangrik is.
- Hoe kom dit dat mens bid?
- Wat is dit wat jou in die gebed na die Here toe stuur?
- Hoe weet jy die Here is naby die wat Hom aanroep, en dat Hy vir die wat Hom vra, gee wat hulle nodig het?
Ons gee vanoggend veral aandag aan die volgende aspekte van die gebed:
1. Waarom bid ons?
2. Die inhoud van ons gebed.
1. Waarom bid ons?
Dit is die Heilige Gees wat geloof in 'n mens vestig, en dan is dit ons geloof in God wat ons dryf om die Here te aanbid.
- Sonder geloof kan niemand bid nie, want sonder geloof kan niemand God ken nie.
- Dit is ook deur die geloof dat ons die leiding van die Heilige
Gees oor ons kan ervaar en na ons hemelse Vader toe gaan en gaan vra
vir wat ons nodig het.
Die Bybel onderstreep een baie belangrike saak: ons geloof gee aan ons gebed krag en lewe.
- Ek noem juis die woord "lewe" omdat dit die verhouding wat daar tussen ons en die Here is, beskryf.
- Twyfel in ons geloof is gewoonlik ook 'n doodsteek vir ons
gebedslewe, omdat ons nie tot Iemand kan bid wat ons nie ken en vertrou
nie.
Deur die geloof weet ons van die God se mag waarmee Hy oor ons lewe beskik.
- Net so weet ons deur die geloof van sy liefde en sy goedheid wat die verhoring van ons gebede waarborg.
- Die geloof ken die volheid en die genoegsaamheid van God se
genade, en bewerk daarom die lus in ons om op ons knieë te gaan en
om God te gaan dank vir hierdie genade waarin ons ook deel.
Die gebed bestaan egter nie net uit dank aan die Here vir genade wat Hy gee en gegee het nie.
- Die gebed het ook 'n element van verpligting in homself.
- Die Here beveel die wat Hom liefhet om te bid.
- Daarom het Jesus ook toe Hy die Onse Vader gebed gegee het, gesê dat ons so moet bid.
- Om te bid is dus ook 'n gebod, net soos elke gebod van die Tien Gebooie, en ons sal gestraf word as ons nie (genoeg) bid nie.
Ons moet net altyd onthou dat daar in die gebed twee dinge is wat mekaar moet ontmoet:
- Die gebod van God dat ons tot Hom moet bid,
- moet saamsmelt met ons behoefte om te bid.
'n Gebed wat nie uit behoefte gebid word nie, is kragteloos en leeg, want dit het nie inhoud nie.
Die kruisdood van Jesus het ook iets te sê vir ons gebedslewe.
- Ons is almal onwaardige sondaars, wat sekerlik almal worstel met die gebed.
- Dikwels weet ons nie wat om te bid nie.
- Baie keer vergeet ons baie belangrike dinge waarvoor ons moet bid.
- Baie van ons kan nie in die openbaar bid nie.
- Maar in Christus se versoeningsdood gee Hy ons die vrymoedigheid
om met ons gebede na God se troon toe te gaan met ons gebede.
- Ons moet nou weet dat God ons gebede sal verhoor omdat Jesus die
straf gedra het vir alles wat ons skeef mag bid of verkeerd mag
bid - of waarvan ons selfs vergeet om te bid.
Dit beteken nie dat ons gebede dadelik verhoor gaan word as ons bid nie.
- Die Here verhoor sekerlik nie ons gebede op ons tyd nie.
- Hy verhoor dit op sy tyd (vgl. Daniel en die engel van die Perse).
- Die Here verhoor ook nie ons gebede soos ons dit verhoor wil
hê nie, maar juis deur die genade wat Christus vir ons verwerf
het, verhoor God ons gebede so dat alles vir ons ten goede en ten beste
kom.
U moet ook nie die krag van die gebed onderskat nie.
- Dink net aan die keer toe Herodes Petrus in die tronk laat gooi het na die dood van Jakobus.
- Petrus was dag en nag deur vier soldate in die tronk bewaak. Die hele tyd het die gemeente sonder ophou vir hom gebid.
- In die nag het daar toe 'n engel by Petrus opgedaag wat hom beveel het om aan te trek en hom te volg.
- Die engel het Petrus by al die wagte verbygelei tot buitekant die
tronk. Petrus is toe na die huis van Maria toe waar die gemeente
bymekaar was om juis vir hom wat Petrus is te bid.
- Terwyl die gemeente nog besig was om te bid, klop Petrus al aan die deur.
So sal mens meer voorbeelde uit die Bybel en ook uit ons eie
geskiedenis kan haal om aan te toon hoe die Here gebede verhoor en
selfs met magtige wonderwerke dit wat die gelowiges nodig het, vir
hulle gee wanneer hulle daarvoor bid.
2. Die inhoud van ons gebed.
Waarvoor moet of mag 'n mens alles bid? Daarvoor het die Here Jesus die Onse Vader gegee.
- Daarin staan die Naam en eer van God op die voorgrond net soos in die Tien gebooie.
- God se Naam moet eerste geheilig word, en sy koninkryk moet kom.
- Alles in die hemel en op die aarde moet Hom volkome gehoorsaam.
Verder is die liggaamlike welsyn ook deel van die gebed.
- Ons moet bid vir brood dit beteken vir kos en klere elke dag.
- Dis dinge vir hierdie lewe, maar dit is nie vir God onbelangrik nie.
Ons eie geestelike welvaart kom ook in die gesigsveld:
- Ons bid dat die Here ons ons sondes moet vergewe, maar ons wil
ook deur sy genade in staat gestel
word om mense wat teen ons sondig te vergewe wat hulle verkeerd gedoen
het.
- Daarom vra ons dit van die Here - gee ons hierdie
ruimheid Here dat ons eie ek kan verdwyn en U beeld van koningskap, wat
oor verwaandheid heers, my besit. Gee dat ek die sondes teen my
gedoen, kan laat verbygaan sodat ek, sonder om my daaroor te
kwel, steeds U dienskneg kan bkly wat u eer soek..
Gebed is natuurlik nie net om te vra nie. As ons bid verhef ons ook die
lof van die Here. Dink byvoorbeeld aan Psalm 116 waar ons sing dat ons
God liefhet, en dat ons Hom aanroep al ons lewensdae.
- Die Psalm leer dat die Here ons keer op keer hulp skenk, en die veronderstelling is baie duidelik dat dit volg op ons gebede.
- Die Psalm leer ons dat ons in tye wanneer strikke van die dood ons gryp, ons in ons nood die Here moet smeek.
- Psalm 116 leer ons bid dat die Here ons moet red, soos wat Hy ons belowe het.
Dit is presies wat in ons teksverse ook staan.
Die vooreg om te bid is eintlik so groot dat dit sekerlik in sy volle
konsekwensies by ons verbygaan, want die Here vergewe ons baie meer as
net ons sondes wat ons voor Hom bely.
- Hy doen dit omdat Christus die straf vir ons sondes aan die kruis
gedra het, en ook omdat die kruis van Jesus vir ons die pad in die
gebed na God se troon toe oopgemaak het.
Kom ons lees Kategismus Sondag 45 saam
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 28B
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 23 Februarie 2003.