Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 68:2.
Gebed.
Psalm 25:5.
Skriflesing: Psalm 96
Teks: Kategismus Sondag
36. Psalm 96
Dawid gebruik die taal en woorde wat God hom gegee het om die grootheid
van die Here op die aarde te loof.
- Die Here het nie ons taal aan ons gegee net om met mekaar te
gesels nie, Hy het dit ook (veral) gegee sodat ons Hom daarmee moet
verheerlik en grootmaak.
- Dis 'n baie besondere voorreg wat ons het om God te prys
- dat ons 'n taal het met woorde, sodat ons God kan smeek om ons
te help in ons nood. En om Hom te kan dank vir al sy genade.
Maar ons taal plaas ons in 'n verhouding van geweldige
verantwoordelikheid voor God.
Die feit dat ons gedoop is in die Naam van die Drie-enige God, plaas
ons in ‘n verhouding tot Hom wat vereis dat ons Hom in alle waarheid
moet aanbid.
Die teendeel is so dikwels waar. Ons versuim hierdie mooi pligte en
gawes van ons.
Ons doen die nalatigheid op twee maniere.
Eerstens omdat ons die Here nie met die tong en mond loof soos wat ons
moet nie.
En tweedens omdat ons sy Heilige Naam - wat ook in ons taal gegee is -
ydellik gebruik. Dis die hele kwessie van die derde gebod. Die ellende
is dat ons dikwels so diep val, dat ons die Naam van die Here sommer
doodgewoon misbruik in ons gesprekke, sonder dat ons dit selfs
agterkom.
Dit is 'n baie ernstige sonde om die Naam van God ydel te gebruik. Ydel
gebruik, beteken dat ons dit gebruik onder omstandighede waar dit
duidelik is dat dit nie met die nodige eerbied en respek is nie.
Wanneer ons in die gebed God se Naam aanroep, is dit met groot respek
en verwagting. En dan verhoor God ook ons gebed. Kom ons
dink vir een oomblik na oor wat die verhouding tussen iemand wat God se
Naam gebruik om te vloek se verhouding tot God is.
Met wie praat hy wanneer hy vloek?
Dit kan tog nie met God wees nie, want met God praat mens net met groot
huiwering.
God luister en verhoor wanneer ons sy Naam uitspreek in die gebed.
- Maar wie luister wanneer God se Naam heen en weer geslinger word
in 'n gewone gesprek?
- Kan iemand wat vloek verwag dat die Here met deernis na hom moet
kyk wanneer hy een van die Here se Name oneervol noem, of selfs
uitskreeu?
Ydele gebruik van God se Naam beteken letterlik dat ons God vir die gek
aanhou. Ons bly Hom roep, maar ons spreek Hom nie aan nie.
Kyk na die rol wat God die Heilige Gees in hierdie saak speel.
- Die Heilige Gees leer ons die Naam van God ken.
- Hy leer ons om hierdie Naam te aanbid.
- Hy leer ons ook wat om te bid as ons voor God staan.
Is dit nie waar dat die oomblikke wanneer ons vloek, die oomblikke is
wanneer ons die heel minste dink wat ons doen nie?
Vergewis die een wat God se Naam ydel gebruik homself daarvan of hy die
Naam van God gebruik omdat die Heilige Gees hom inspireer om dit te
doen?
En verder ook die vraag: In wie se Naam gaan hy wat die Here se Naam
ydel gebruik na die Kerk toe.
Kom ons kyk ook sommer na dinge wat ons uit gewoonte doen, soos
byvoorbeeld om te groet. Die Christene het van die begin af die gebruik
om mekaar in die Naam van die Here goeie wense toe te wens.
In die Nuwe Testament het die mense mekaar gegroet met die woord :
Genade.
Die wat meer Joodse agtergrond gehad het, het gegroet met die woord :
Vrede.
Die Apostel Paulus het die twee aanmekaargelas, en daarom lees ons in
die Bybel dat hy die mense groet met : Genade en vrede vir julle!
'n Groet in die Here, want Hy gee genade en vrede. So 'n Christelike
groet is dus niks anders as 'n gebed nie. Jy bid dat God sy genade en
vrede moet skenk aan hierdie mens voor jou.
Weeg nou dinge teen mekaar op: Die persoon wat iemand in die Here
groet en by ‘n ander geleentheid misbruik hy die Here se Naam.
Hier gebeur mos nou iets wat onversoenbaar is, en dit kan mos nie deur
die Here geseën word as iemand die een oomblik die Here se Naam
smaad, en die volgende oomblik die Here smeek om iemand te seën
nie. Dit is tog sekerlik nie moontlik nie.
Wat gaan van so iemand word? Hy moet lewe sonder seën. Hy
lewe saam met die toorn van God.
- Mens kan seker met goeie reg sê dat laster 'n gebed vir die
duiwel is.
- Want iemand wat laster betuig homself openlik as 'n vyand van
God.
Die saak van laster, en die ydele gebruik van die Here se Naam gaan nog
verder. Die valse eed wat mense sweer val ook onder Godslastering
en ydele gebruik van die Naam van die Here.
As jy 'n eed sweer, dan beteken dit dat jy God as Getuie inroep dat Hy
moet instaan vir die waarheid wat jy nou vertel.
Sweer jy 'n valse eed, dan roep jy die Regverdige God van waarheid in
om in te staan vir jou leuen.
In daardie geval skend so ‘n mens God se heiligheid openlik.
Daarom vertoorn die Here Hom so oor hierdie soort van sonde.
Maar nou gaan die saak nog verder. Dit gaan nie net oor vals
sweer nie, maar ook oor onnodig sweer.
God se Naam moet baie spaarsamig en met die hoogste waardigheid gebruik
word.
Hy kan nie ingeroep word vir elke nietigheid nie.
Dit beteken nou nie dat ons glad nie 'n eed mag sweer nie.
Inteendeel! Die ware eed is 'n erkenning en verheerliking van God se
Naam.
Maar die eed wat ons sommer sweer in geselskap, strek nie die God van
hemel en aarde tot eer nie.
Nou is dit sekerlik baie maklik om te sê dat ons nie hierdie
sondes deel nie, want ons vloek nie, en ons sweer ook nie onnodig nie.
Dan kan dit dalk so wees.
Maar daar is tog van ons wat in mekaar se teenwoordigheid die Naam van
die Here ydel gebruik.
Ons bekommernis oor God se heiligheid moet so groot wees dat nie een
van ons dit sal doen nie - en nie eers ‘n skyn daarvan nie.
Verder behoort ons diegene wat die Here se Naam in ons teenwoordigheid
gebruik, in liefde te vermaan.
Ons kan nie sommer sê dat ons niks met die saak te doene het nie,
want ons naaste se saligheid en God se heerlikheid is heeltemal ons
saak! Ons het dus deel aan hierdie sondes as ons dit ooglopend
toelaat, en geen poging aanwend om dit te verhoed nie.
Let ook op die volgende saak: 'n Gevloek kom uit die hart uit.
- As ons dan God se Naam gebruik om te vloek, dan bewys dit dat
alles wat ons bely in die Naam van die Drie-Enige God niks anders is as
leuens nie, want ons is bereid om hierdie selfde God te verloën
met laster.
- Daarom word ons gedreig met straf as ons hierdie sonde doen.
Want
die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat
bly nie.
- Die regverdigheid van God kan nie ongewreek gelaat word nie.
- Die lankmoedigheid van God kan ook nie onbeperk aangaan nie.
- Daarom word hierdie sonde gestraf. Deeglik. Met die ewige
dood.
Eintlik is dit logies, want wie sal nou kan verwag dat so 'n
koelbloedige sondaar by die God kan lewe wie se Naam hy as vloek en
skeldwoord gebruik het. Die hel is die oortreder van hierdie
gebod se voorland.
Maar hierdie gebod verbied ons nie net om die Naam van God onheilig te
gebruik nie.
Dit gebied ons ook tot die heilige roeping om God se Naam wel te
gebruik, want ons moet: met eerbied, en diepe aanbidding.
Ons lees in Psalm 50 : 15
en
roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet
My eer. (Psalms 50:15 AFR1953)
Geliefdes, laat ons dan nie die lankmoedigheid van die Here in hierdie
gebod beproef nie.
- Kom ons handhaaf die eer van God se Name
- en ons leer dit ook so aan ons kinders.
- Laat ons sy Naam verheerlik.
- Laat ons in sy Naam glo.
- Laat ons in sy Naam bid.
Kom ons lees Kategismus Sondag 36 saam.
Vraag 99: Wat eis die
derde gebod?
Antwoord: Ons mag die
Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur 'n valse
eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur
stil te bly of dit toe te laat ons aan sulke verskriklike sondes
skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God
nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons
reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word
(h).
(a)Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt 5:37; Jak
5:12. (d) Lev 5:1; Spr 29:24. (e) Jer 4:2; Jes
45:23. (f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps
50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24;1 Tim 6:1.
Vraag 100: Is dit dan so
'n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek
dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover
moontlik teëgaan en verbied nie?
Antwoord: Ja, seker (a),
want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy
Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf
(b).
(a)Spr 29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 105:1, 5.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 30 Desember 2001.