Ons hulp is in die naam van die HERE wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader, en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
AMEN.
Lofpsalm 84: 6.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 89: 6.
Gebed.
Doop: Bartlett tweeling en Koetsierdogtertjie.
Psalm 105:1, 5.
Psalm 29: 1.
Lees Rigters 17 en 18.
Teks: Rigters 17:6
In die dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen
het gedoen wat reg was in sy oë.
Met hierdie somber geskiedenis verhaal die Here dat wanneer wanorde
in 'n gemeenskap/volk/kerk heers, dit deurwerk tot in die betrokkenes se
geloofslewe.
Die reël in ons geloofslewe is dat ons geskape is om God te dien
soos Hy dit voorskryf.
- Dit vereis dat ons onder alle omstandighede aan Hom gehoorsaam
moet wees.
- Die oomblik wanneer die mensdom hiervan afwyk, tree die straf van
die Here in werking.
Dit is presies wat in hierdie twee hoofstukke openbaar word.
Kom ons kyk na die agtergrond van die stuk geskiedenis:
Daar het sommer vroeg al 'n hele paar dinge skeefgeloop in die
volksgeskiedenis en geloofsgeskiedenis van die Israeliete. Al die foute
was as gevolg van geloofsongehoorsaamheid en eiesinnigheid.
- Toe die volk nog in die woestyn rondgetrek het Moses al vir hulle
gesê dat die Here sê dat hulle 'n koning moet hê
wanneer hulle in die beloofde land aangekom het.
- Dit is opvallend dat Rigters 17 en 18 altwee spesiaal vermeld dat
daar nog nie 'n koning oor Israel aangestel was nie.
- Daarmee openbaar die Here dat die volk nalatig was en hulle nie
gesteur het aan die opdragte van die Here oor was hulle moes doen nadat
hulle gevestig het nie.
- Hoofstuk 17 het die baie skerp verwyt daarby dat elkeen gedoen
het net soos wat hy lus het.
Die Here lê in hierdie geskiedenis 'n baie duidelike
verband tussen sosiale chaos en geloofsverwardheid.
- Die Here openbaar dat dit Hom glad nie aanstaan nie.
- Daarom beklemtoon Hy veral die uiteinde daarvan: die ballingskap,
m.a.w. verwerping en vernietiging deur die Here.
Wat doen mense verkeerd as elkeen doen wat Hy wil?
- Die Here begin hierdie geskiedenis deur te vertel dat 'n sekere
Miga geld van sy ma gesteel het.
- Die mense het so gou die wette van die Here vergeet dat die
verbod op diefstal nie meer 'n indruk op hom gemaak het nie.
- Sy ma se praktiese geloofsbeoefening was niks beter nie.
- Sy het weer nie die regte perspektief op die verbod op doodslag
nie.
- Daarom het sy 'n vloek uitgespreek oor die persoon wat haar
geld gesteel het.
- Sy neem die wraak van die Here in haar eie hande en dit mag
'n mens nie doen nie.
Die seun was egter daardeur beïndruk.
- Hy was bang vir die vloek van die Here, want hy het nie kans
gesien om deur die vloek van die Here vernietig te word nie.
- Hy gaan gee die geld terug en bely by sy ma dat dit hy was.
Ons kom dus agter dat hierdie gesin die Here wel ken en Hom aanbid.
Maar die manier waarop hulle die Here aanbid, is verkeerd. Dit kom ons
gou agter.
- Let eerste op na die ma se optrede:
- Sy besluit toe om hierdie geld aan die Here te wy.
- Om dit te doen, het sy tweehonderd sikkels silwer vir 'n
silwersmid gaan gee om 'n gesnede en gegote beeld daarvan te maak.
- Dit was 'n beeld wat uit hout uitgesny was en dan met silwer
oorgetrek was.
- Die beeld moes dan gebruik word om die Here mee te dien.
Met hierdie optrede van haar kom ons duidelik agter dat die eerste
en die tweede gebooie oortree word. Hierdie gesin beoefen beeldediens en
dit word uitdruklik deur die Here verbied.
Daar is 'n verskil tussen beeldediens en afgodsdiens - al
is altwee verkeerd.
- Afgodediens is waar 'n beeld vir 'n afgod gemaak word en hierdie
afgod deur 'n beeld en die rituele wat daarmee saamgaan, aanbid word.
- Beeldediens is waar 'n beeld gemaak word, om die Here daarmee te
aanbid.
Die tweede saak wat skerp geopenbaar word, is dat hierdie man sy eie
heiligdom het waarin hierdie beeldediens gaan plaasvind.
- Met die eerste oogopslag mag dit dalk lyk asof hierdie man sy
godsdiens beter wou belewe,
- maar die feit dat die Here daarby opmerk dat die heiligdom waar
Hy werklik aanbid wou word in Silo gestaan het, verander ons insig.
- Die Here wys ons daarop dat hierdie man eiewillige godsdiens
beoefen het.
Miga se bidplek het die Here s'n nageboots, maar daar was verskille:
belangrike verskille.
- Miga het ook 'n bidhuis gehad.
- Hy het ook 'n priesterskleed gehad.
- Dan het hy dinge bygevoeg wat die Here nie bygehad het nie: hy
het nog 'n stel huisgode ook gehad.
- Nou het hierdie nuwe groot godsbeeld ook nog bygekom.
Miga se priester het ook van die Here se priester verskil.
- Die Here se hoëpriesters was uit die geslag van Aäron.
- Miga het eers sy eie seun gewy en toe 'n rondloper Leviet.
Die feit is: al was sy nabootsing van ware godsdiens hoe eg, dit
was steeds nie vir die Here aanvaarbaar nie.
Daarom gaan die openbaring van die Here verder:
- Dit was nie net in die stam van Efraïm waar dinge so geloop
het nie.
- In die stam van Dan was dit presies dieselfde.
Die Daniete het 'n probleem gehad, want die volk wat deur hulle verdryf
is om hulle grond te vat, het weer teruggekom en 'n deel van hulle grond
teruggevat.
- Die Daniete het toe na 'n makliker uitweg gesoek, naamlik om 'n
swak volkie iewers te gaan soek en die uit te moor, sodat hulle daar kon
bly.
- Dit was nie soos die Here dit wou gehad het nie.
Daarom word vertel van hierdie vyf verspieders wat op soek was na
grondgebied en wat op hulle omswerwinge by Miga se huis aangedoen het.
- Die Bybel laat blyk dat hulle die priester van Miga goed geken
het.
- Hulle het selfs van die godspraak van die eiewillige priester
gebruik gemaak.
- Die sonde wys weer sy kleur, want die priester weet dat die
Daniete uit is om mense te soek wat hulle kan doodmaak om op hulle grond
te bly.
- Tog stuur hy hulle weg met die vrede van die Here.
Die Bybel laat blyk dat daar regverdiges onder die Daniete was wat nie
wou meedoen aan hierdie uitmoorsessie nie, want toe die vyf verkenners
terug was by die huis, het hulle baie moeite gehad om die mense te
oortuig dat hulle moet gaan veg.
- Uiteindelik het hulle maar 'n leër van seshonderd man
bymekaargeskraap.
- Dit is 'n baie klein leër, want Dan se stam kon 'n baie
groter hoeveelheid manne opgelewer het.
- Ons het dus te doen met 'n wegbreekgroepie.
- Dadelik dink ons weer aan die Here se woorde dat elkeen in
hierdie tyd gedoen het wat hy wil.
Die bedrog tussen die Daniete en die sogenaamde priester kom alles
helder uit wanneer die Daniete terugkom om die vredeliewende mense te
gaan doodmaak.
- Hulle kom beroof eers Miga se huis.
- Hulle steel sy aanbiddingsvoorwerpe en beding met die priester
dat hy hulle moet kom bedien, want hulle is meer as Miga se huis.
- Die Bybel vertel dat die priester met vreugde ingewillig het, en
dat hy saam met die manne weg is oorlog toe.
- Miga het nog agternageskreeu dat hulle sy gode steel - so asof
die Here in die beeld vasgevang was en gesteel kon word. So verkeerd was
hulle godsdiens.
Die hele aangeleentheid klink maar soos 'n storie of 'n stukkie
alledaagse geskiedenis totdat ons die Here se siening op die saak kry.
Die mense van Dan het die afgodsbeeld daar
opgestel...totdat die bevolking in ballingskap weggevoer is. Hulle het
die afgodsbeeld van Miga wat hy gemaak het op sy plek neergesit, en dit
het daar gebly solank as wat die huis van God in Silo was (18:30,
31).
Die woorde sê dat die redes vir die ballingskap al by hierdie
mense begin het.
- Dit het spesifiek begin by hulle beeldeaanbidding - wat
aanvanklik baie onskuldig gelyk het.
- Dit het later oorgeslaan in afgodsbeeldaanbidding - wat nie eers
meer na onskuld gelyk het nie.
- Dit alles het openbaar geword in die feit dat elkeen gedoen het
wat hy wou.
- Elkeen het eiewillige godsdiens beoefen.
- Hulle het God gedien soos hulle lus gehad het en waar hulle lus
gehad het en nie waar die Here dit wou hê en soos Hy dit wou
hê nie.
Natuurlik moet ons hierdie openbaringsfeite op onsself toepas, want die
Here se bedoeling was tog nie dat Hy betekenislose dinge in die Bybel
wou neerskryf nie.
- Ons moet daaraan ag gee of die verbod op beeldediens nog geld of
nie, want dit is waar die eerste probleem met hierdie saak is.
- Ons sal moet onthou, dat daardie mense nog in die ou bedeling
gelewe het, terwyl ons al die volle openbaring het.
- Maak dit in hierdie geval 'n verskil in die manier waarop die
Here aanbid wil word?
- Uit ons belydenis is dit baie duidelik dat die Here nog steeds
die verbod op beeldediens handhaaf, want die Here Jesus het self
gesê dat Hy nie kom om die wet tot niet te maak nie, maar om dit
te vervul.
- Ons moet onsself dus nog steeds van enige afbeelding of manier
van afbeelding van die Here weerhou.
- Daar is geen manier waarop ons die Here of iets van die Here
kan voorstel en voorgee dat ons Hom daardeur aanbid nie.
- Dit was die begin van die einde van die mense wat die Here op
hierdie manier wou aanbid.
Die tweede saak is die kwessie van eiewilligheid.
- As ons daaroor wil praat, moet ons die genade in berekening bring
dat ons nie net die wet van die Here het soos die mense in Miga se tyd
gehad het nie.
- Ons het ook nie net die volledige Ou Testament soos die mense in
die tyd van die Here Jesus se lewe op aarde nie.
- Ons het die volledige openbaring van die Here, want ons het die
Ou en die Nuwe Testament, en ons het die eie werking van God deur sy
Gees in ons.
Die Heilige Gees leer en lei ons in ons Godsdiens en in ons aanbidding.
In ons tyd word baie aanspraak gemaak hierop - wat ook reg
is, want veral die Gereformeerdes swyg die Heilige Gees en sy werk
te dikwels dood omdat ons bang is dat ons in die een of ander vorm van
sektarisme sou verval.
Daarom is dit baie goed dat daar in ons tyd weer stemme opgaan dat ons
deur die Heilige Gees gelei moet word om die Here met meer hartlikheid
en volheid te dien.
- Maar die ding waarteen ons moet waak, is eiewilligheid, want die
Heilige Gees sal ons nooit lei dat ons, soos in die dae van die Rigters,
elkeen doen wat hy wil nie.
- Die Heilige Gees tree nooit anders op as om God se Woord te
gebruik en sy geopenbaarde wil onveranderd aan ons te bevestig
nie.
Hierdie geopenbaarde wil van die Here raak nie net ons kerkwees nie.
Dit raak ons totale lewe.
- Die fondasies van alle orde lê in ons verhouding met God.
- Die oomblik wanneer dinge daar skeefloop, werk dit deur in ons
hele lewe.
- In die gedeelte is dit geopenbaar dat 'n skeefgetrekte godsdiens
uiteindelik uitgeloop het op die vernietiging van 'n hele volk -
eiewillige aanbidding is dus 'n baie gevaarlike speletjie.
Met hierdie somber geskiedenis waarsku die Here dat skeefgetrekte
aanbidding die fondasies sowel die gemeenskap waar dit voorkom, as die
kerklike lewe van die mense wat daarby betrokke is, uitkalwe.
- Daarom moet ons ag gee op hierdie geskiedenis en sorg dat ons die
kruisgenade van die Here so nastreef en vir onsself toe-eien dat ons
- enersyds nie sektaries raak daarmee nie,
- maar aan die ander kant ook nie daarmee in 'n skeefgetrekte
godsdiens, soos eiewilligheid of beeldediens verval nie.
- Sulke godsdienstige waardes eindig in die dood.
Ons is bestem tot gehoorsaamheid. Ons Here het uit die hemel neergedaal
en mens geword. Hy het die verbond wat God met ons het (en wat ons
vanoggend weer beleef het!) oor elkeen van ons waar gemaak. Hy het dit
gedoen deur die straflyde en die versoening wat Hy as gevolg daarvan,
wille van ons deurgemaak het:
- Hy het ons deur sy dood met God versoen en daardeur seker
gemaak dat ons Hom in volle gehoorsaamheid sal kan volg in die
uitvoering van elke gebod.
- Uiteraard stel dit eise aan ons - soms swaar eise.
- Die belangrike is egter net dat ons nie die karakter van die
wêreld moet aanneem en so deel word van die wêreld nie.
- Die wêreld het 'n baie skynheilige gesig, want hy praat
baie van die Here, en doen uiterlik dalk selfs dinge waarmee dit lyk
asof ons Hom dien, terwyl hy Hom heeltemal misloop.
Die Here Jesus se lewe op aarde het juis ook hierdie faset gehad dat
dit voortdurend in konflik was met mense en sisteme wat (eiewillig)
elkeen gedoen het wat reg is in sy eie oë - maar
voortdurend die eindadres, naamlik die eer van God en die Koninkryk van
God gemis het.
- Die straf wat die Here Jesus veral tydens sy dood gedra het, was
om al die wat tog soms in hierdie ydelhede verval, maar dan teen hulle
sin, van die oordeel van God te verskoon.
- Hy het versoening gedoen sodat hulle toenemend onder die leiding
van sy Gees die waarheid skerp kan sien en navolg.
- Sy dood was sodat hulle reeds tydens hierdie lewe al uit menslike
eiesinnigheid kan uitbreek en in totale gehoorsaamheid aan God Hom kan
verheerlik.
Ons is nie deel van die wêreld nie. Ons is God se geredde
kinders. Mag ons redding juis sigbaar wees in twee dinge:
- Dat ons die vermoë het om te kan onderskei waarop dit
aankom, nl. dat ons kan weet wat die inhoud is van dit wat die Here van
ons verwag.
- Dat ons die lewensbeginsels wat Hy stel, kan toepas in die uiters
getroue manier waarop ons die Here dien volgens dit wat Hy bepaal het en
vir Hom aangenaam is.
Amen.
Gebed.
Slotpsalm 2: 6.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees gaan met u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 6 Oktober 2002.