Sing vooraf: Psalm 91:8
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 146:1, 8
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid vir vergewing van
ons sondes met Ps. 40:4.
Wet
Psalm 40:4
Gebed
Psalm 100 (beurtsang)
Skriflesing: Lees Romeine
8:14-30 en Hosea 4:1-8
Teks:
Romeine 8:28
En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir
hulle wat na sy voorneme geroep is. (Romeine 8:28 AFR53)
Waar staan ons teenoor die Here? Ons moet elke oomblik onthou dat die
doel van ons skepping is om God te verheerlik.
- Die eerste troos wat ons baie duidelik het, is dat ons kinders van God
is.
- Maar die feit dat ons kinders van God is, maak nie dat daar meteens
geen versoekings en geen pyne oor ons kom nie.
Versoekings en die pyne van lyding gaan sy pad met elkeen van ons
kruis. Wat maak ons daarmee? Dit is belangrik om aan hierdie saak
aandag te gee, want die manier waarop ons dit sien en dit wat ons
daarmee maak, bepaal die eindproduk, naamlik of ons die Here verheerlik
of nie.
Kom ons kyk in hierdie preek na die volgende twee maniere van optrede:
1. Gee oor en verloor
2. Wen in God se genade
1. Gee oor en verloor
Ons kan op twee maniere optree in ons persoonlike omgang met die Here.
Ons kan
- gelowig en gehoorsaam wees
- of ongelowig en ongehoorsaam wees.
Die Here verwag om aanbid en gehoorsaam te word. Maar die mens doen in
sy sondes baie keer presies die teenoorgestelde.
- Ons verdwaal soms so deur ons sondes dat ons heeltemal veragter in God
se genade.
- Die uiteinde daarvan is dat die Here ons straf met baie ellendes en
uiteindelik seker met die ewige dood – dit is nou by die
mense waar daar nie bekering en verandering kom nie.
Hosea 4 gee die beskrywing van mense wat verdwaal het in hulle geloof
en in hulle aanbidding.
- Die Here roep sulke mense op dat hulle moet luister:
- Hy wil met hulle ’n regstryd aan die gang sit.
- Die Here stel sy saak met hulle reguit: Daar is geen trou en liefde en
kennis van God onder die volk nie.
Dit het dus so erg gegaan dat die volk in sy geheel die geloofspoor
byster geraak het. Let ook op dat die drie dinge wat die Here noem,
’n stygende lyn vertoon:
- Trou
- Liefde
- Gebrek aan kennis
Die een is elke keer die gevolg van die ander een, sodat al die
probleme uiteindelik is as gevolg van die feit dat die mense nie kennis
van God het nie.
Die betroubaarheid waarna die Here verwys, toon aan dat die mense hulle
opregtheid en eerlikheid in hulle omgang met mekaar verloor het.
- Vers 2 gee ’n sterk uitbreiding op die Here se verwyt:
- Die mense
sweer vals (dit sou ook vloek kon insluit).
- Hulle het
so laag gedaal dat hulle God se Naam gebruik het om hulle leuens te
bevestig.
- Hulle
belieg mekaar en steel en pleeg owerspel.
Die opsomming van sondes soos wat die Here dit hier gee, herinner
ooglopend aan die Tien Gebooie. Mens sou kon sê dat dit
algehele morele verval is wat ingetree het.
Hierdie morele verval is as gevolg van die tweede saak wat die Here
noem:
- Die liefde ontbreek.
- Waar die
liefde ontbreek, gebeur die dinge wat die Here opnoem.
- Hulle
pleeg moord en vergiet bloed.
- Omdat
daar nie liefde is nie, is daar ook nie respek vir iemand anders se
lewe nie.
Waar lê die grondfout? Die mense ken God nie.
- Innerlik is daar vervreemding van God af weg.
- Daarom het die gelowiges hulle perspektief verloor.
- As jy jou verhouding met God verbreek, is daar net een ander verhouding
wat oorbly, en dis ’n verhouding met die duiwel –
dan gebeur al hierdie dinge in jou lewe.
Daarteenoor noem Romeine 8:14 vv. ons kinders van God. Pas nou Hosea se
beskrywing van die kerk in sy sonde langs Romeine 8 waar daar by
herhaling staan dat ons kinders van God is:
- Is dit waar dat ons hierdie dinge (soos vloek en moor) sal doen en
oorkom as ons kinders van God is?
- Is dit waar dat ’n gelowige sal weier om vermaan en
tereggewys te word – soos wat dit in Hosea se tyd gebeur het
(v. 4)?
- Hulle het
die sonde so gevestig dat hulle enigiemand wat hulle wou reghelp,
doodgewoon doodgesmoor het met hulle dubbele standaarde.
- Hulle het
met almal rusie gemaak, maar wanneer iemand met hulle praat, het hulle
hierdie persoon baie gou daarop gewys dat daar nie getwis mag word nie.
Hosea 4 is baie belangrik as ons die waarheid omtrent hierdie dinge wil
weet.
- Die Here leer in Hosea 4:3 dat Hy sulke ongeregtigheid geweldig straf.
- Hy straf nie net die mense nie – Hy straf die hele land
waarin hulle woon saam met hulle.
- Aangrypend beskryf die Bybel hoe die land en sy mense kwyn as die hand
van die Here op hulle gaan lê oor hulle sondes.
- Die land
ly so erg dat die land inderdaad rou oor die mense se sondes.
Waarom? Omdat hierin profeties iets van die eindgerig geopenbaar word.
- Daarom sê die Here dat hulle helder oordag gaan struikel
– op die tydstip wanneer niemand behoort te struikel nie,
omdat hy mos kan sien waar hy loop.
- Die sonde en die oordeel van die Here word uitgebeeld met die donker
van die nag.
- In die
donker is die situasie so swak dat die profeet wat in sulke tye die pad
moet kan aantoon, nie kan nie.
- Hy val
saam met die volk.
Hierdie dinge is die pad van die dood. Daarom hoort dit nie in die
lewens van kinders van God nie. Hulle moet ’n ander pad loop.
2. Wen in God se genade
Versoekings wat die gelowige in sonde wil verlei, sal daar altyd wees.
- Weier die gelowige om daaraan toe te gee, dan kom daar allerhande
lyding oor hom, want hy word verwerp deur die wat die Here nie waarlik
ken nie.
- Hierdie lyding kan wissel van spot en smaad tot by fisiese aanranding,
soos wat die vroeë Christene dit belewe het toe hulle vir die
leeus gegooi is en op die brandstapels aan die brand gesteek is.
Die kinders van God is op geen manier van aanvegtinge onthef of
verskoon nie. Maar die kinders van God moet nie in die ellendes gaan
lê of hulle daardeur moedeloos laat maak nie.
- Hulle moet na hulle ellendes kyk vanuit ’n bepaalde hoek.
- Hulle moet dit weeg teen die heerlikheid van God wat vir die kinders
van God wag.
Die Here is nie ongevoelig teen lyding wat oor ons kom nie. Hy openbaar
dat daar iets profeties in ons lyding verskuil lê: Dit is
’n aanwysing van die heerlikheid wat op pad is.
Net soos Hosea, sluit die Romeinebrief aan by die lyding wat in die
skepping voorkom.
- Hosea het na een aspek daarvan verwys, naamlik dat dit is as gevolg van
ons sondes.
- Die Romeinebrief verwys na ’n ander aspek, want dit verwys
daarna dat die skepping wag op die dag wanneer die Here sy kinders
verheerlik, want daardie dag breek die skepping uit sy lyding uit.
Dit is waar, want die dag wanneer ons verheerlik word, is die nuwe
hemel en die nuwe aarde ook daar.
- Die nuwe aarde is nie meer aan die vloek van die mens se sondes
onderwerp nie.
Daarom openbaar die Here aan ons hoe die skepping die lyding wat
daaroor beskik word, hanteer. (Want die skepping stel vir ons
’n voorbeeld.)
- Die Skepping gaan lê nie vrywillig in die vernietiging nie.
- Dit veg daarteen in die hoop dat dit ook uiteindelik daarvan vrygemaak
sal word.
Daarby beskou die skepping al die lyding wat daaroor kom bloot as
geboortepyne, omdat hierdie lydingspyne gevolg word deur die geboorte
van die nuwe hemel en die nuwe aarde.
- Die pyn van lyding is dus nie pyn van vernietiging nie,
- maar pyne wat die nuwe lewe in Christus aankondig.
Net so moet daar by ons ’n verset wees teen moedeloosheid en
negatiwiteit.
- Ons moet stry teen verkeerde dinge, want dit dra die dood in homself.
- En as ons dan moet ly, dan ly ons omdat ons nie deel is van die sonde
nie, en omdat juis die pyn van ons lyding die koms van die koninkryk
van God aankondig.
Die eindpunt van lyding is die dood – maar die dood is oorwin
deur ons Here Jesus.
- Hy het die dood oor ons weggebreek toe Hy met sy liggaam opgestaan het
uit die dood.
- Sy belofte is dat ons almal Hom gaan volg uit die dood terug in die
lewe in.
Dit is ’n baie sterk genadeboodskap:
- Moenie in stomme wanhoop verval wanneer jy in lyding beland nie.
- Leef in die hoop van herstel en van die opstanding uit die dood.
- As die aarde wat as gevolg van ons sondes aan die vloek van lyding
onderwerp is, met reikhalsende verlange en hoop uitsien na die
wederkoms, hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie?
Die Bybel openbaar dat hier twee dinge gebeur:
- Die een is dat die skepping die oë op ons gevestig hou en ons
daarmee bemoedig om te volhard.
- Die tweede is dat ons wat kinders van God is, ook alreeds deur die
soendood van ons Here Jesus die eerstelinge van die Gees ontvang het.
(Die eerstelinge was die eerste brode wat gebak is en die eerste
lammers wat gebore is wat as ’n dankoffer vir die Here gegee
is. Later het die volle tiende gevolg.)
Met ons is dit presies so:
- Ons het nou al van die Here af die eerstelinge van die Gees ontvang.
- Dit
beteken dat ons nou al in beginsel die ewige lewe en die ewige
heerlikheid van God wat daarmee saamgaan, ontvang het.
- Later sal ons die volheid van God se genade en seën ontvang.
- Dit
gebeur wanneer ons voor die troon van God verskyn en toetree tot die
volmaaktheid van die hiernamaals.
As die skepping so sterk hoop om deur die lyding te breek in die
verlossing van Christus, hoeveel te meer nie ons wat reeds die Heilige
Gees het wat in ons woon nie.
- Ons lewe nie in ’n vae verlange of in ’n onbepaalde
heimwee rondom ons verlossing nie.
- Ons lewe
in die vaste profetiese versekering van God die Heilige Gees dat ons
kinders van God is wat uit hierdie ellendes verlos sal word om in
volmaaktheid te kan bestaan.
- Die Gees van God lei ons nie net in ons alledaagse lewe nie. Hy kla ook
nie net altyd deur ons gewetens nie.
- Hy lei
ons ook fisies wanneer ons bid. Hoeveel kere is dit nie asof ons gebede
vassteek wanneer ons pyn ervaar nie? Dan regeer die Gees van God ook in
ons verstand, sodat ons ook dan die Here kan loof en prys.
Die gedeelte in Romeine 8 sluit nog weer af met die heilsorde om
daarmee te beklemtoon dat ons verlossing vas en seker is in God se
raadsplan.
- Die heilsorde begin deur dit duidelik te stel dat God eerste
’n raad het waarin Hy mense geken en verordineer het.
- Efesiërs 1 leer dat hierdie verkiesing en verordinering voor
die skepping reeds bepaal het dat ons sonder gebrek in Jesus Christus
sou wees.
- Soos wat hierdie uitverkore mense op die aarde lewe, roep die Here ons
tot die geloof en maak ons regverdig.
- Natuurlik
kan ons net op een manier regverdig word, en dit is omdat die soendood
van Jesus Christus vir ons plaasvervangend is.
- Uiteindelik word ons verheerlik.
- Ook
hierdie verheerliking gebeur in die saligheid wat ons verwerf het in
Jesus Christus.
Dit is waaroor alles vir die kinders van God gaan. Aan die einde van
die tyd verheerlik die Here hulle in sy ewige koninkryk.
Christus stuur ons nog daagliks in die lewe in, met ander woorde om bly
te wees en om seer te kry, maar om alles te hanteer tot sy eer. Met sy
Woord (die Bybel) en die Heilige Gees bevestig die Here Jesus Christus
presies hierdie beloftes aan u.
- Sy dood was tot versoening van sondes.
- Sy dood was verder om die lyding wat ons as gevolg van ons geloof in sy
verlossing moet dra, in die regte perspektief te stel.
- As ons ly, staan dit in die teken van die ewige verheerliking wat op
hande is.
- Wees dus daarvan verseker dat alles op die aarde vir ons ten goede
meewerk, omdat ons deur God geroep is.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 33:5
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 23 April 2006
(oggend)