Sing vooraf: Psalm 144:1;
Skrifberyming 7-1:1 (31:1); Skrifberyming 15-2:3 (38:3) (wysie Psalm
18);
Ons hulp is in die Naam van die Here wat
die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
68:1, 9
Geloofsbelydenis
Nicea
Na die wet antwoord ons met Psalm 4:2
Wet
Psalm
4:2
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes
van God
- Algemene bede:
- Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm
31:12
Skriflesing:
Sagaria 1.
Teks: Sagaria 1: 11b
Daarop
het hulle die Engel van die HERE, wat tussen die mirtebome gestaan het,
toegespreek en gesê: Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die
ganse aarde is stil en rustig. (Sagaria 1:11 AFR53)
Die
inhoud van hierdie preek is dit: Dit is verkeerd as dit stil en rustig
is in die kerk.
- Stilte in die kerk beteken dat die kerk gesterf het.
- Stilte in die kerk beteken dat die kerk bang is vir konflik, en nou sit
die lidmate stil dat die verkeerde dinge maar oor hulle spoel.
Die
gedeelte wat ons gelees het, is die eerste van agt naggesigte wat
Sagaria gesien het. Al agt die naggesigte het dieselfde tema: Dit
handel oor die heil wat God beplan het vir sy volk. Al die gesigte
preek genade en oordeel:
- Oordeel oor die mense wat God verwerp.
- Verlossing en genade oor die mense wat hulle bekeer.
In
hierdie gesig sien Sagaria 'n ruiter op 'n bruin perd. Eintlik staan
daar in die Hebreeus dat dit 'n rooi perd is. Agter die ruiter op die
rooi perd, is daar nog 'n groep ruiters. Hierdie ruiters se perde het
verskillende kleure: bruin, vos en wit.
- Ons lees dat die groep ruiters tussen die mirtebome
in 'n laagte staan.
- Mirtebome is lang bome wat immergroen is, en wat daarmee die ewige lewe
simboliseer.
- Soos dit hier staan, simboliseer dit die ingang van die hemel. Hierdie
ruiters staan voor die Here.
- Dit staan nie so hier in die Bybel nie, want hier staan dat hulle voor
die Engel van die Here staan. Ons weet dat dit die Ou Testamentiese
gestalte van Jesus Christus is.
- Hierdie ruiters is boodskappers wat deur die Here gestuur is om die
hele aarde te deurkruis.
- Hulle het nou teruggekom na die Engel van die Here toe, wat hulle
uitgestuur het, om verslag te doen oor hulle bevindinge.
- Daarom staan hulle voor God self.
Sagaria
sien al hierdie dinge, maar hy verstaan nie wat aan die gang is nie.
Daarom vra hy vir iemand wat by hom is:
Toe
sê ek: Wat beteken dit, my heer? En die engel wat met my
gespreek het, antwoord my: Ek sal jou toon wat dit beteken. (Sagaria
1:9 AFR53)
Die
engel antwoord Sagaria nie. Die man wat die leier van die ruiters is,
antwoord hom. Hulle is 'n patrollie wat gestuur is om die hele aarde te
deurkruis. Nou het hulle hier bymekaargekom om verslag te doen oor
alles wat hulle gesien het.
Hulle
opdrag was:
- Hulle moes gaan kyk hoe die volkere teenoor mekaar staan.
- Hulle moes gaan kyk of daar vrede of oorlog is.
- Hulle moes ook verslag doen oor die houding van die ander volke teenoor
die volk van God, want die volk van die Here het maar 'n kort rukkie
voor hierdie naggesig uit die Ballingskap uit teruggekeer.
Die
verslag is terleurstellend.
- Die hele aarde is stil en rustig.
- Daar is geen beroerings nie.
- Daar is volkome rus op die hele aarde.
Hierdie
ruiters moes woelinge gesien het.
- Die rooi kleur van die perd van die aanvoerder skep so 'n verwagting.
- Dan moes daar 'n oorwinning vir die volk van God gekom het
- die wit perde van die ander ruiters preek dit.
Waarom
is hierdie verslag dan terleurstellend?
- Ons sou in ons tyd gedink het dat dit 'n skitterende verslag is.
- Ons hoor net van moord, ontvoerings en geweld.
- Mens voel amper nêrens meer veilig nie.
- Ons sou oordeel dat hierdie verslag dus 'n baie goeie een sou wees.
- As die ruiters in ons tyd na die Here toe sou moes ry, sou hulle net
kon vertel van haat en onverdraagsaamheid en bomme en verkragtings.
U
moet egter net nie die fout maak om te dink dat die stilte waarvan ons
teksvers praat, 'n begeerlike stilte is nie.
- Dit was 'n stilte wat benoudheid om jou hart gespan het, want dit was
die stilte van die dood - die dood in God se kerk.
U
sal die verslag net goed kan verstaan as u kyk na die agtergrond van
hierdie naggesig. Om dit te kan doen, moet ons na
die inhoud van meer profete se prediking gaan kyk.
- Die profeet Haggai het saam met Sagaria geprofeteer.
- Net 'n paar maande voor hierdie naggesig van Sagaria, het Haggai
geprofeteer dat die Jode nie moet moedeloos word omdat hulle so sukkel
nie.
- Dinge het vir die Jode maar moeilik gegaan: Hulle was pas terug uit
Ballingskap en niks wou vir hulle vlot nie.
- Hulle moes net moed hou, want die Here sou weer glorie aan hulle gee.
Want
so sê die HERE van die leërskare: ‘n
Rukkie nog, ‘n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde
en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook
al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal
toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê
die HERE van die leërskare. (Haggai 2:6-7 AFR53)
Die
Here sal alles in beweging bring, en Hyt sal vir hulle 'n nuwe heilstyd
begin.
- Haggai het geprofeteer dat die volk van God weer hulle skatte in
Jerusalem sal indra vir die nuwe tempel wat hulle moet bou.
- Hy het verder ook nog geprofeteer dat die Here die mag van die groot
koninkryke sal verbreek, en hulle perde en waens sal omkeer.
Nou
sal u verstaan dat daar geweldige perspektiewe vir die volk van God in
die vooruitsig gestel is:
- Die wêreld sou in beweging kom om die eer van God te
herstel.
- Dit is die
agtergrond waarteen u nou moet luister na die verslag wat die ruiters
aan die Here doen.
Die
ruiters het die hele aarde deurkruis,
- Maar hulle kon nêrens enige teken kry van volke wat hulle
gereedmaak om hulle eer en heerlikheid na die tempel van God toe te
bring nie.
- Daar was ook geen teken van Jode wat hulle in Babel
gereedgemaak het om na hulle land toe terug te gaan nie,
- Net so was daar ook geen teken van heidene wat hulle gereedmaak om saam
met hierdie Jode terug te gaan nie - soos wat
Haggai alles voorspel het nie.
Die
teenoorgestelde was waar: die kerk het gesug onder 'n vreemde juk. Die
Perse het op daardie stadium beheer oor die Jode gehad.
Alles
was egter nie tevergeefs nie, want die Jode het 'n Voorbidder by God
gehad. Die Engel van die Here staan voor die troon van God en Hy bid
tot die Vader:
Daarop het die Engel van die HERE
aangehef en gesê: HERE van die leërskare, hoe lank
nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem en oor die stede van Juda
waarop U alreeds sewentig jaar vertoornd was? (Sagaria 1:12 AFR53)
Here
van die Leërskare, hoe lank bly U nog sonder ontferming?
– die Here Jesus was toe al die Voorbidder by die Vader.
Dan
antwoord die Vader met trooswoorde. Hy sê dat Hy sal ywer oor
Jerusalem, en dat Hy vertoorn is op die nasies wat sy volk vertrap. Hy
sê vir die Engel van die Here dat Hy moet roep en
sê:
Daarom, so sê die HERE:
Ek wend My met ontferming tot Jerusalem; my huis sal daarin gebou word,
spreek die HERE van die leërskare, en ‘n meetsnoer
oor Jerusalem gespan word. Roep verder en sê: So
spreek die HERE van die leërskare: My stede sal weer oorstroom
wees van goeie dinge, en die HERE sal Sion weer vertroos, en Hy sal
Jerusalem weer verkies. (Sagaria 1:16-17 AFR53)
Hierdie
ongunstige verslag het dus die gevolg dat die Engel van die Here bid
vir die kerk, en hierdie gebed het weer troos
tot gevolg.
- Die saak van die Kerk is ten volle die saak van Jesus Christus.
- Hy het nie verniet die doodsbenoudheid deurgegaan nie
- Hy het juis gesterf vir sy kerk.
- Daarom verhoor die Vader dadelik sy gebed.
Hoe
raak die ruiters verslag oor die kerk ons en die tyd waarin ons lewe?:
- Word die kerk (ons lidmate!) in ons tyd weer gehoorsaam, of verdwaal
die mense al hoe verder?
- Gee volke werklik die eer aan God?
Seker
die heel belangrikste vraag is: Waar pas ons gemeente in?
- Doen ons byvoorbeeld werklik Evangelisasie om daarmee seker
te maak dat elke mens rondom ons God se Woord hoor, sodat die bekering
waarvan God praat, kan plaasvind?
- Leef ons eerlik na buite toe sodat ons mense met ons lewensstyl na God
toe trek - of lyk en leef ons maar soos die wêreld?
Dit
is so rustig in ons gemeente dat dit lyk asof baie van ons se geloof
ook al gesterf het.
- Hier is ‘n groep in die gemeente wat alles doen -
maar die res vervaag as dit by gemeentelike meelewing kom.
- Dit lyk so asof daar baie lidmate op die boeke staan, maar wat nie deel
in die aanbidding nie.
- Daar is ‘n taamlike groot deel van ons gemeente wat maar so
aan en af kerk toe kom, maar van voluit aanbidding saam met die
gemeente in die samekomste, is daar nie sprake nie.
- Dan het daardies die argument dat mens nie net die Here dien as jy kerk
toe kom nie! Is dit waar, want die Here self leer iets anders!
- Die dankoffers van die gemiddelde lidmaat vertel ook glad nie dat
alamal van ons iets het om God oor te dank vir sy genade nie.
- Die dankoffers skep die indruk dat ‘n deel van hierdie
gemeente armlastiges is.
- Op die punt van stil en rustig wees, deel ons gemeente waarskynlik in
die verslag van die engele,
- want ons is oor die algemeen baie versigtig om nie met ‘n
openlike en opregte lewe vir God aan ander mense aanstoot te gee nie.
- Ons is ook baie skrikkerig vir konfrontasie oor geloofsake. Ons swyg
liewer as om in 'n argument betrokke te raak.
U
moet nie dink dat die slegte magte stilsit nie.
- Hulle is te dankbaar wanneer ons niks doen nie, want dit gee hulle
die geleentheid om oor ons heen te woeker.
- Dit gee hulle die geleentheid om ons te in te sluk in die doodsheid
van die hel in.
Die
Engel van die Here se vraag is tydloos, want God bestaan tydloos. Hy
vra vandag ook nog: Hoe lank nog Here ...?
Maar
weet dit: Die Engel van die Here het tussen die naggesig van Sagaria en
vandag sy werk voltooi.
- Hy het die doodstryd vir die kerk kom stry.
- Hy het met sy kruisdood en sy opstanding self die magte van die hel in
beweging gebring, want Hy het hulle verslaan en hulle weet dat hulle
nou vir oulaas moet skade doen soveel as wat hulle kan, want hulle tyd
loop uit.
As
ons regtig in die Here Jesus glo, moet ons voluit in die stryd wees,
want die koninkryk van God is op die punt om te kom.
- Daarom moet one lewens en ons styl van lewe ook reg wees.
Dink
daaraan: Jesus Christus bid as Oorwinnaar by die Vader. Hy bid as die
Een wat beskikking het oor alles: lewe, dood en die hel.
U
moet nie bang wees en dink dat ons alleen staan nie. Ons Voorbidder bid
saam. Maar Hy bid nie meer "hoe lank nog..." nie. Hy het klaar oorwin.
Hy wag vir die oomblik dat Hy hierdie naggesig van Sagaria ten volle
gaan vervul.
Ons
lees in Openbaring dat daar in die hemel ook ongeduld is. Ons lees in
Openbaring 6 ook van gekleurde perde en daarmee saam van siele wat
onder die altaar in die hemel werk. Die siele onder die altaar bid ook;
Hoe lank nog, Here ...?
En toe Hy die vyfde
seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die
wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat
hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem
uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser,
oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?
(Openbaring 6:9-10 AFR53)
Die
eindoordeel is nie meer ver nie. Dan gaan ons in die heerlikheid van
God in. In die hemel lyk die kerk nie soos wat die kerk op
die aarde oor die algemeen lyk nie.
- In die hemel is dit nie stil nie, want die hemel weergalm elke
oomblik van die koorsange van die engele.
- Na die wederkoms sal ons stemme in die hemel ook nog daarby kom. Ons
stemme is nou al by wanneer ons bid en God aanbid -
al sing en aanbid ons op die aarde.
- In die hemel gaan ons ook nie ledig rondlê nie.
Ons gaan elke oomblik werk - soos die engele dit
nou doen.
Pas
ook op vir die tyd waarin ons nou lewe.
- Die dood en die opstanding van die Here Jesus Christus werk onrus op
die aarde.
- Die duiwel en sy
magte weet dat hulle tyd min is, en daarom spits hulle hulle met alle
geweld toe op die aarde - op die kerk en sy lidmate.
- Die duiwel gebruik in sy aanvalle veral twee dinge:
- Die een is God se Woord
- Die ander een is die Persoon van die Here Jesus Christus wat Hy
verdraai en vervals. (vergelyk hiervoor onder andere Markus 13).
Ons
mag nie stil en rustig wees teenoor die aanvalle van die duiwel nie.
- Ons moet aktief wees en teen die Satan stry, veral soos hy hom in
onsself probeer vestig met ons eie sienings en waardes en beoordeling
van sake.
- Ons moet so
oortuig wees van ons saak dat ons kan veg en stry in en met die krag
van die Here Jesus.
- As ons
nie al daardie punt van bekering bereik het nie, is dit alles vir ons
tevergeefs.
- Sorg dat die
Here u kry waar u besig is om aan Hom eer te gee en die duiwel te beveg
wanneer Hy kom.
- Mag die
Here nooit hoor dat dit in ons gemeente stil en rustig gaan
- dat ons in die sondedood ingesterf het nie.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm
19:7
Die Here
sal jou seën en jou behoed;
Die Here
sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die
Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 8 Januarie 2005 (aand).