Sing vooraf: Psalm 148:5;
Psalm 65:5; Psalm 66:1; Psalm 68:3; Psalm 136:3
Ons
hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
89:1, 10
Gebed
Psalm 2:3
Skriflesing:
Sagaria 1
Teks:
Sagaria 1:21
Toe sê ek: Wat kom hulle
maak? En Hy antwoord en sê: Dit is die horings wat Juda
só verstrooi het dat niemand sy hoof opgehef het nie; maar
hierdie manne het gekom om hulle skrik aan te jaag, om die horings van
die nasies neer te werp wat die horing teen die land van Juda opgesteek
het om dit te verstrooi. (Sagaria 1:21 AFR53)
Sagaria
was ’n baie besondere mens. Sy naam was eintlik al
’n samevatting van al die preke waarvoor die Here hom geroep
het, en wat hy voor die volk gelewer het.
- Die naam Sagaria beteken: Die Here onthou!
- Sagaria het gepreek dat die Here altyd onthou watter beloftes Hy aan
ons gemaak het.
- Die Here het belowe dat Hy ons gaan losmaak van alles wat ons verdruk
het, en druk op ons uitgeoefen het om ons geloof te laat kwyn.
Kom
ons ondersoek saam die twee onderdele van Sagaria se tweede naggesig:
1.
Die straf van die Here
2.
Die verlossing
1.
Die straf van die Here
Ons moet net nie dink dat
die inhoud van Sagaria se naggesig, naamlik dat die Here ons gaan
losmaak van alles wat ons verdruk het, en druk op ons uitgeoefen het om
ons geloof te laat kwyn, beteken dat geloof sommer maklik is, en dat
die Here sommer net vergewe en regmaak wat verkeerd is nie.
- Die Here red ons deur straf, berou en bekering heen.
- Die Here onthou ook wat ons alles moet doen,
- en Hy onthou ook om ons te straf as ons nie wil luister nie.
- Die verskriklikste gevoel wat ’n mens seker kan beleef, is
wanneer jy op ’n punt in jou lewe kom waar jy meteens
agterkom dat jy gebreek is tot in die grond.
- Die punt waar jy agterkom dat jou siel brandarm is.
- Die dag wanneer jy agterkom jou mense om jou is al almal dood.
- Wanneer daar iets met jou gebeur het en jy meteens agterkom jy is in
die skande. So erg dat jy nie eers jou kop kan optel nie!
- Dit was die toestand waarin die volk was toe Sagaria die môre
aan hulle die gesig vertel het wat hy die vorige nag gesien het.
- Dink ook net hoe verlig hulle was oor wat die profeet te sê
gehad het, want dit het weer vir hulle ’n toekoms gewaarborg.
- In hierdie tweede naggesig waarborg die Here die veiligheid van die
kerk.
- Die volk het juis net uitgekom uit ’n 70-jaarballingskap
waarin hulle was omdat hulle nie wou glo soos die Here van hulle verwag
het nie.
Die
Here sal die kerk tot niet laat gaan as Hý wil, soos wat Hy
aan die Israeliete bewys het:
- Hulle wou nie hoor en hulle bekeer nie, en toe het Hy hulle letterlik
laat verslaan en laat wegvoer in ballingskap.
- ’n Volk is tot niet gemaak met land en al.
- MAAR toe het die Here dit self gedoen – die wêreld
kan dit nie doen nie.
Na
70 jaar het die Here besluit dat Hy die volk weer wil herstel.
- Hy bring toe ’n klein groepie van hulle terug uit
Babilonië.
- Groot getalle, baie geld en blink vertoon is nie vir die Here belangrik
nie.
Die mense
kry toe ook nog die wind van voor, want hulle was skaars vry van die
Babiloniërs, toe word hulle weer deur die Perse onderwerp.
- Hulle eerste opdrag was dat hulle die tempel moes herbou – en
in hierdie stadium was hulle al 20 jaar terug, maar die tempel was nog
nie herbou nie omdat die mense wat in die tussentyd die land begin
bewoon het, dit nie wou toelaat nie.
- Ons kan sê dat dit alles teenspoed van buite hulleself was.
Maar
dit was nie die grootste probleem nie! Die grootste probleem was die
teenspoed wat hulle van binne af gekry het:
- Hulle eie ongeloof het hulle oorval en maak hulle hande slap.
- Lamsakkigheid was ’n baie groter hindernis as wat die
bedreiging van die vyande was.
As
mens nou die prentjie so sou sit en bekyk, dan lyk dit asof die kerk in
die wêreld sal ondergaan, want die kerk gaan agteruit.
- Die kerk word aangeval en bedreig van buite en van binne.
- Dan – op hierdie kritieke tydstip – kom Sagaria en
hy preek dat die Here nie sal toelaat dat die wêreld die kerk
vernietig nie.
- Die Here gaan sy kerk verlos.
Die
Here waarborg nie dat ons maar kan slap raak, en dan sorg Hy nog altyd
dat ons voortbestaan nie.
- Hy gee net die versekering dat die kerk altyd daar sal wees.
- Die wêreld sal nooit die kerk kan vernietig nie.
Sagaria
het vier horings gesien.
- Die vier horings het sekerlik nie in die lug gesweef nie. Dit moes aan
die koppe van diere vasgesit het.
- Sagaria vertel nie watse soort diere dit was nie, omdat dit nie
belangrik is nie.
- Dit is die horings self wat so ’n indruk op hom maak.
- Hy sien hoe hierdie horings oor die grond aankom en sy volk teen die
grond platslaan.
Die
horings het Sagaria baie bang gemaak. Horings was mos in die Ou
Testament altyd ’n teken van brutale geweld en krag.
- Dawid sing mos in Psalm 18:3 dat God sy horing van heil is.
- Asaf sing weer in Psalm 75:11 dat God die horings van die goddelose sal
stukkend breek. En dan bedoel hy dat God hulle mag sal verwoes.
Dit
is so dat horings in die gesigte en profesieë regdeur die
Bybel altyd bonatuurlike mag en kragte simboliseer.
- Sommige kere is dit anti-Goddelike nasies se krag wat so uitgebeeld
word, en ander kere is dit die Here se krag wat so uitgebeeld word,
soos byvoorbeeld die horings teen die altaar wat die krag van God
uitbeeld.
- In die gesig van Sagaria het ons nie te doen met horings wat versoening
bewerk soos by die altaar, of in Dawid se psalm nie. Daar word vertel
van verstoting. Dit is hierdie horings wat Juda verstrooi het.
Hierdie
naggesig slaan ver in die toekoms in.
- Dit profeteer van ’n tyd wanneer die nasies sal opstaan en
die kerk sal probeer uitwis.
- Die wêreld gaan oor die gelowiges trap soos wat die horings
die mense platgeslaan het.
Hierdie
naggesig sluit dus aan by Openbaring wat beskryf dat die Christene
doodgemaak word omdat hulle glo, en dat slegs die wat die teken van die
bees dra, sal kan handel dryf.
- Die wêreld en die magte van die hel sal alles só
inneem dat dit nie vir die Christene moontlik sal wees om voort te gaan
nie.
- Die getal vier is die getal wat altyd gebruik word om die skepping te
simboliseer.
- Dit dui ook die vier hoofrigtings aan.
- Sagaria sien ook vier horings – dit beteken dat nasies uit
die vier windrigtings teen die kerk sal opstaan en dit verstrooi.
Die
naggesig was natuurlik ook waar van Israel, want die hele destydse
wêreld het Palestina om die beurt verower:
Babilonië, Sirië, Persië en Egipte. Dit was
al die groot moondhede wat daar in daardie tyd was!
2.
Die verlossing
Sagaria is so verstar in sy vrees
vir hierdie horings dat hy aanvanklik nie die vier sterk manne sien wat
te voorskyn kom nie. Die Here moet sy aandag daarop vestig.
- Hulle preek die heilswerk van die Here.
- Dit is nie verby met hierdie Jerusalem nie.
- Die Here stuur ’n ander mag om die mag van die vier horings
te vernietig.
Sagaria
sien ystersmede wat ysterhorings kom stukkend slaan.
- Die woord wat hier in die Hebreeuse teks gebruik word, beteken net
vakman.
- Die Nuwe Afrikaanse vertaling vertaal dit met ambagsmanne.
- Die ou Afrikaanse vertaling het dit vertaal met smede, na aanleiding
van 1 Konings 22:11 waar daar van ysterhorings sprake is.
Die
Bybel leer hier dat die wêreld die volk van God so
platgeslaan het dat niemand eers sy kop kon optel nie.
- Daarmee is die Here nie tevrede nie.
- Daarom stuur Hy hierdie vier vakmanne om die vier horings met hulle
geweldige smidshamers stukkend te slaan.
Kyk
weer na die beeld:
- Die wêreld staan vol godslastering teenoor die kerk van God.
- Meteens staan daar vier smede wat die wêreld totaal van sy
voete af slaan en verwoes.
- Dit openbaar dat God nie magteloos is nie, al is die kerk self
magteloos.
In
die beeld van die vier horings word net brute krag en geweld
gesimboliseer. In die beeld van die vier smede word meer as net krag
gesimboliseer:
- Hulle is ook simbool van verstand en vakmanskap.
- God gebruik sy krag met oorleg en vaardigheid.
- Daarteen het die wêreld en die duiwel geen weerstand nie.
Die
vakmanne preek twee dinge aan ons:
Eerste
preek hulle die verlossing wat God bewerkstellig. God stuur
’n mag in die wêreld in wat teen die
wêreldmagte gaan optree en hulle totaal vernietig.
- Baie duidelik het ons hier te doene met ’n voorspelling van
Jesus Christus. Hy kom lewe in ons wêreld – as
’n mens – om die mag van die wêreld en
die hel te vernietig.
- Christus word deur die mense – onder die aansporing van die
duiwel – aan ’n kruis opgehang.
- Maar met hierdie daad het die Satan ook sy eie graf gegrawe, want dit
het juis die verbreking van sy mag beteken.
- Christus worstel as ’n mens met die dood.
- Soos ’n mens gaan Hy in sy graf in – maar Hy is ook
die eerste mens wie se liggaam in eie krag die dood oorwin en weer
lewendig uit die graf uit terugkom.
- Hierdie Vakman het op die aarde versoening uit oordeel uit gemaak.
- Hy het ’n nuwe lewe oopgemaak vir mense wat beloon behoort te
word met die angs en besoedeling van die hel.
- Hy het die mag van die hel gebreek en ook verbreek – die mag
van die vier horings verbreek.
Maar
alles is nie net genade nie. Daarom preek hierdie smede in die tweede
plek ook die gerig van God.
- Die inhoud van die evangelie is tog verlossing vir die wat glo, en
oordeel vir die wat die verlossing van Christus verwerp.
- Enersyds is dit waar dat Jesus Christus sterf om sondaars te verlos.
- Maar aan die ander kant is dit ook waar dat Hy sterf om alle mense wat
teen God werk saam met die duiwel en sy magte te vernietig.
Kyk
nou na onsself. By watter mag is ons gewig ingegooi.
- Gaan ons soos die vier horings met ’n groot spoed deur die
lewe en trap op alles wat vir God heilig is?
- Is dit nie dalk waar dat ons nie belangstel in suiwer beginsels nie?
- Hoeveel krag het ons geloof? Dis net ’n geloof van
papierdikte wat dit oorweeg om liewer sonde te doen as om die
heiligheid van aanbidding te beoefen.
Hierdie
naggesig plaas geweldig baie klem op ons verantwoordelikheid.
- Ons moet werklik kerk wees en waarlik gelowiges wees.
- Anders gestel: Ons moet werklik ’n bekeringslewe leef as ons
wil hê die Here moet ons beskerm, want Hy verlos uiteindelik
net die ware kerk.
Ons
moet dit weet: Ons word beskerm deur die Here se almagtige genade.
- Daarom moet ons begenadigdes wees!
- Ons moenie ’n gebrek aan diepte in ons lewensinsig
hê nie, want God die Heilige Gees lei ons juis met God se eie
wysheid deur ons dae.
Ons
is ook nie ongelowig nie. Ons kan die volle eis van verantwoordelikheid
op elke terrein van ons lewe nakom, want ons deel in die verlossing van
die Here Jesus Christus.
Hy
kom aanstons om te oordeel. Laat ons gereed wees om Hom met blydskap in
te wag om Hom vir ewig te verheerlik.
- Dit is waar dat die gelowiges dan in die teerheid van die Here Jesus se
liefde op die nuwe aarde gevestig gaan word.
- Ons moet net nie dink dat die liefde van die Here ons toestemming gee
om geloofslamsakkig te wees en maar net aan te draal deur ons geloof
nie.
- Hy verwag van ons kragtige voetstappe in sy diens. Hy wil ons voluit en
eerlike aanbidding beleef.
Kom
ons leef voluit en oortuig bekeerd van elke vorm van ellendigheid wat
daar in ons geloofsmondering mag wees.
Mag
ons ’n kerk wees wat in die lof van God leef en jubel.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm
116:1, 9
Die Here sal jou seën en jou
behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat
skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy
aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Maart 1999
Reeks oorgemaak: 15 Januarie 2006