Sing vooraf: Psalm
56:3; Psalm 69:11; Psalm 139:8.
Ons hulp is in
die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Skrifberyming
8:1.
Geloofsbelydenis Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons
sondeskuld en bid om vergewing van ons sondes met Ps. 40:4
Wet
Psalm
40:4
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir
die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en
sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes van God
- Algemene bede:
- Verligting
van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm
84:1, 6.
Skriflesing:
Sagaria 5.
Teks:
Sagaria 5:3.
Daarop sê hy vir my:
Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig
daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig
daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word. (Sagaria
5:3 AFR53)
Baie keer gebeur dit dat
mens die suur van die lewe saam met die soet kry. In hierdie naggesig
het ons ook iets daarvan.
- Die Here
belowe die herstel van sy kerk, maar Hy openbaar met die naggesig dat
Hy sy kerk gaan skoonmaak ook.
- Die Here suiwer sy
kerk deur sy Woord.
1.
Die opgewondenheid oor die heropbou van die tempel.
2.
Die inhoud van die suiweringsproses.
1. Die opgewondenheid oor die
heropbou van die tempel.
Dink
net hoe opgewonde die klomp teruggekeerdes was toe hulle gehoor het dat
die Here hulle hulle sondes vergewe het.
- Veral toe hulle in Sagaria se naggesig gehoor het dat hulle soos
‘n brandhout is wat uit die vuur uitgeruk is.
- Die Here gaan met hulle die toekoms in op die basis dat Hy hulle
ongeregtigheid van hulle af wegneem.
Daarna
was daar weer ‘n visioen waarin die Here openbaar het dat die
Heilige Gees die kerk se lig brandend sal hou.
- Die Heilige Gees gaan die tempel opbou.
- Die vraag is net: Hoe gaan die Heilige Gees dit doen?
Die
antwoord lê in hierdie naggesig:
- Die Heilige Gees gaan die kerk van die Here opbou deur dit eers te
suiwer.
- Hy gaan die verkeerde elemente daaruit verwyder.
- Hoe dit gaan gebeur, word baie skerp gestel: Die goddeloses gaan deur
die vloek van die Heilige Gees uit die kerk uitgeroei word.
- Hierdie uitroeiproses is geweldig en onherroepelik.
Die
vraag kan by ‘n mens opkom of die boekrol werklik iets met
die tempel te doen het? Die antwoord is natuurlik:
- Ja, dit het, want die naggesigte gaan dan juis daaroor dat die Here die
tempel gaan herbou - en hulle wat uit Babel teruggekom het, was juis
besig om die tempel te herbou.
- Hulle het oor allerhande redes vasgesteek met hulle herbouery, en
daarom het die naggesigte gekom om hulle weer aan te spoor om met hulle
werk aan te gaan.
- Daarby openbaar die Here dat Hyself die werklike kerk - die mense opbou
en suiwer.
Die
afmetings van die boekrol sluit hierby aan, want die afmetings van
hierdie verskriklike groot boekrol is presies dieselfde as die van die
heilige in die tabernakel en in die tempel van die Here.
- Die maat verwys na die plek waar die volk van God bymekaar kom - daar
waar die volk met hulle offers en met die prediking ontsondig word.
- Daar waar die Verbondsgod sy genade aan sy volk bevestig.
Anders
gestel:
- Dit is die afmetings van die plek waar die manne saamkom om te offer en
te aanbid en met God gemeenskap te beoefen.
- Daar waar die volle kerk bymekaar is, gaan die Here met sy
suiweringsproses begin.
- Daar, diep in die heiligdom van sy kerk, gaan Hy met sy Woord toets
hoeveel van sy Woord in sy kerkvolk ingesink en in hulle gevestig
geraak het.
Natuurlik
word die genadeprediking van God by die gelowige afgerond met
gehoorsaamheid. Dink maar net aan Psalm 40:7 (8):
(40:8)
Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my
voorgeskrywe. (Psalms 40:7 AFR53)
Ek gehoorsaam, want God het dit in sy Woord vir my voorgeskryf. Die Nuwe
Testament bevestig dit dat die Here neergeskryf het dat ons sy wil sal
doen:
Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom -
in die boekrol is dit van My geskrywe - om u wil te doen, o God.
(Hebreërs 10:7 AFR53)
Hierdie
naggesig gaan dus glad nie oor die heidene nie.
- Dit gaan oor mense wat bymekaar is waar die Here aanbid word.
- Onder hulle is daar mense wie se aanbidding vals is en wie se motiewe
nie bo verdenking staan nie.
Die
siftingsproses van die Here was al baie lank aan die gang onder die
mense waarvan ons lees in die tyd van Sagaria.
- Baie van hulle is al in die oorloë weggevoer en doodgemaak.
- Daarna is hulle in elk geval weggevoer - en in Babel het die meeste van
hulle weggesmelt onder die ander volke, of het in elk geval nie
belanggestel om weer na Palestina toe terug te gaan toe die tyd
daarvoor aangebreek het nie.
- Die klompie wat teruggekom het, het nie almal teruggekom omdat hulle
werklik in God geglo het en geglo het dat hulle ‘n toekoms
saam met die Here in die land van hulle voorouers sou hê nie.
Daar was ook van hulle wat met ander motiewe teruggegaan het.
Daarom
openbaar hierdie naggesig dat die goddelike vloek rus op die mense in
die kerk wat die verbond minag en met openlike en aanhoudende verset
teen die Here lewe.
- Die vloek van die Heilige Gees kom oor die sondaars in Juda wat
aanhoudend sonde doen, maar hulleself vlei met die hoop op die
saligheid.
- Hierdie naggesig stel sulke mense aan die kaak en toon aan dat hulle
hulleself bedrieg. Hierdie visioen vermaan hulle om in die krag van die
Here en met die insigte wat deur die Woord van God geleer word, met die
sonde te breek.
Die
vlieënde boekrol is die waarskuwing: God openbaar sy wil aan
sy kerk. Hierdie selfde geopenbaarde wil wat hulle van die saligheid
geleer het, gaan die meetsnoer wees waarmee hulle dade getoets word en
hulle ongehoorsaamheid aan die kaak gestel word.
Wat
is hierdie boekrol wat Sagaria gesien het? Hy het die Woord van God -
die Bybel gesien.
- Die mense van die ou tyd het nie boeke geken soos wat ons dit vandag
ken nie. Hulle boeke was ‘n perkament wat om ‘n
stok gerol was.
- Die boek wat Sagaria gesien het, was nie netjies toegerol soos wat dit
was wanneer dit gebêre was nie.
- Dit was oopgerol - om daarmee aan te toon dat dit in gebruik was.
- Die Woord van God was besig om sy werk te doen in die kerk van die Here.
- Daar is ‘n hele paar plekke in die Bybel waar die Here
sê dat sy Woord aan die volk opgeskryf moet word, sodat hulle
dit by hulle kan hê.
- Elke keer beklemtoon Hy dat dit sy Woord is.
- Dit is nie sommer menslike dinge wat in die boekrol staan nie.
- Dink maar net aan die woorde van die Here aan Jeremia:
Neem
vir jou 'n Boekrol en skrywe daarop al die woorde wat Ek met jou
gespreek het oor Israel en Juda en oor al die nasies, van die dag af
dat Ek met jou gespreek het, van die dae van Josía af, tot
vandag toe......En Jeremia het Barug, die seun van Nería,
geroep; en Barug het op 'n Boekrol geskrywe, uit die mond van Jeremia,
al die woorde van die HERE wat Hy met hom gespreek het (Jeremia 36:2,
4).
Die
boekrol het Sagaria bang gemaak, want dit het soos ‘n
reusagtige roofvoël aangevlieg gekom.
- Die boekrol is besig om die oordeel van God aan te kondig.
- Daarom sê die engel dat dit die vloek is wat oor die hele
land uitgaan.
- Die Woord van die Here skeer soos ‘n verskeurende
roofvoël oor die hele land en dit verskeur alle onbekeerlike
sondaars.
- Die boodskap is duidelik: Die Woord van die Here is nie maar net so sag
soos ‘n lam nie. Dit raak elke mens wat die Woord van God
hoor.
- Dit beweeg almal - niemand bly onbeweeg nadat dit die
verlossingsboodskap van God gehoor en deurgemaak het nie.
- Niemand gaan by die kerkdeur uit soos wat hy daar ingekom het nie.
- Wie die Woord onwaardig hoor of beleef, of daarvan af wegleef, trek die
volle geweld van God se oordeel op hom af.
Die
Bybel is natuurlik nie ‘n dooie stuk papier nie - dit is die
lewende Woord van die lewende God.
- Dit natuurlik so dat dit troos leer aan almal wat die inhoud van die
wet en die raad van die Here vir hulleself toe-eien.
- Maar dit is ook so dat die openbaring van God hom wreek op die wat dit
by hulle laat verbygaan het en hulle nie daaraan gesteur het nie.
- Dit is sonder meer onverantwoordelike waaghalsigheid as iemand nie
onvoorwaardelik buig voor die Woord van God nie.
- Daarteenoor is die Woord van God vir die wat dit hoor en bewaar
‘n kosbare seën.
- Daarom kan onbekeerlikheid nie ‘n rustige en stil hoekie in
die kerk hê waar dit onontdek wil lê en die
hiernamaals binnesluip nie.
Die
probleem was dat hierdie klompie teruggekeerdes in ‘n sekere
sin aan geloofsverwaandheid gely het.
- Hulle het geglo dat hulle die besonder begenadigdes is, want hulle het
dan nou teruggekom uit die vreemde uit.
- Hulle kon nie die genade van God daarin sien, sodat dit hulle juis tot
‘n groter en dieper dankbaarheidslewe moes aanvuur nie.
- Hulle was nie meer op die walle van die Rooisee soos hulle voorouers
wat nog maar min van die wet van die Here verstaan het nie.
- Hulle het al baie van God se genade meegemaak.
- En hulle het al baie van die Here se reddende hand beleef.
- Daarom was hulle verantwoordelikheid ook soveel groter.
Dieselfde
geld van ons ook. Dit is die erns van Sagaria 5.
- Ons kerk is baie lankal al by die stasie van Exodus 20 en die
werkverbond verby.
- Ons is
deel van die genadeverbond.
- Die genadeverbond is ‘n baie sterker verbond as die ou
verbond - maar ook ‘n baie gevaarliker verbond as die ou
verbond, omdat dit meer van ons verantwoordelikheid verwag.
2.
Die Inhoud van die Suiweringsproses.
Die
inhoud van hierdie suiweringsproses is ook baie duidelik.
Daarop
sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse
land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim
word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan
weggeruim word. (Sagaria 5:3 AFR53)
Dit
is presies ooreenkomstig die Woord van die Here. Die vloek is volledige
uitsnyding uit die kerk uit volgens of dienooreenkomstig die Woord van
die Here.
Net
twee sondes word uitgesonder, naamlik diefstal en meineed, maar hulle
is bloot verteenwoordigend van alle sondes. Dit was die twee volopste
kerksondes van daardie tyd.
- Vals sweer verteenwoordig die eerste tafel van die wet.
- Steel verteenwoordig die tweede tafel van die wet.
Hierdie
volk waaroor die Here Hom weer opnuut ontferm het, het in ryk huise
gebly.
- Maar
hulle het nie die tempel herbou nie. Daarvoor het hulle nie tyd en geld
gehad nie.
- Intussen het
hulle egter finansieel goed gedoen vir hulleself.
- Haggai preek ook in hierdie tyd en hy kla ook net soos Sagaria
daaroor dat die mense mekaar so besteel het.
En
tog het hulle vroom en godsdienstig gebly.
- Die Bybel verwys daarna dat hulle maklik met ‘n eed gesweer
het as hulle iets wou sê: “so waar as die HERE
leef...”
- Maar
hierdie ede was leeg en vals, want hulle het God en mekaar belieg
terwyl hulle gesweer het.
- Daarmee het die gemeenskap van die heiliges met God en met mekaar tot
niet gegaan.
U
moet nou net nie die genade miskyk nie!
- Die feit dat Sagaria nog hierdie aankondiging kan kom maak, is al bewys
van God se genade.
- Daarmee rig die Here ‘n appèl op die kerkvolk om
tot bekering te kom.
Dit
sal nie die oordeel en die suiwering tot niet maak of uitstel nie.
- Dit sal net maak dat die heiliges in hulle lewensstyl en aanbidding so
hoog bo die valse gelowiges sal uitstyg, dat almal die uitbanning van
die ongelowiges sal verstaan en daarna sal uitsien.
Hierdie
tugaankondiging het natuurlik sy volle gesag en vervulling gekry in
Jesus Christus.
- Hyself het in elke opsig die Woord van God gehoorsaam.
- Daarom staan daar van Hom geskryf dat Hy in elke opsig aan sy broeders
gelyk was - uitgesonderd die sonde.
Daarom moes
Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n
barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat
in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.
(Hebreërs 2:17 AFR53)
Want
ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede
medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is
net soos ons, maar sonder sonde. (Hebreërs 4:15 AFR53)
- Die Here Jesus het vergewing van sondes gepreek, maar Hy het ook
gepreek dat die vergewing van sondes ineengestrengel is met
gehoorsaamheid aan God se Woord.
Die
Here Jesus sterf nie vir ‘n onbegrensde groep mense wat deur
hulle eie willekeur aanbid en gered word of nie. Die Here leer ons in
Openbaring 13:8 dat ook dit reeds deur God vasgestel en neergeskryf is
in sy raadsplan:
En al die bewoners van die
aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van
die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag
is, geskrywe is nie. (Openbaring 13:8 AFR53) (Vgl. Ook Johannes 17).
Die
vervulling van hierdie naggesig lê daarin dat Jesus elke
belofte van verlossing wat in die Woord aangekondig is, vervul het.
- Hy het die straf gedra vir die sondes van elke uitverkorene.
- Die uitverkorenes het hierdie eienskap dat hulle probeer om sover hulle
kan aan die eise van God se Woord gehoorsaam te wees.
- Omdat hulle egter almal sondaarmense is, is dit logies dat hulle nie
baie goed hierin slaag nie, maar omdat hulle bedoelings en hulle geloof
suiwer is, sterf die Here Jesus Christus vir hulle sondes.
Die
Here Jesus het na sy hemelvaart die Heilige Gees gevestig in sy kerk.
- Hy lei ons nou nog met sy Gees en sy Woord - presies soos wat die Here
dit in die naggesigte van Sagaria belowe het.
- Maar daar kom ook ‘n einde aan, want ons bely elke Sondag dat
ons die Here Jesus terugverwag as die ewige Regter.
Waarmee
gaan Hy oordeel as Hy die eindoordeel voltrek?
- Die Here Jesus gaan nie in die eindoordeel sommer na willekeur oor
mense oordeel nie.
- Hy gaan ook nie na mense se gesigte kyk of hulle mooi is en of Hy van
hulle hou nie. Hy gaan oordeel volgens wat in die raadsplan van God
opgeteken is:
En as dit bevind is dat iemand nie
opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur
gewerp. (Openbaring 20:15 AFR53)
- Hy gaan oordeel volgens sy Woord. Onthou die woorde wat in Openbaring
20:12 geskrywe staan:
En ek het die dode, klein
en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n
ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel
na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. (Openbaring 20:12
AFR53)
Ons
gaan van hierdie vlieënde boekrol wat Sagaria gesien het en sy
inhoud nooit ontslae raak nie.
- Die Here het dit gestuur om by ons te bly as ons padkaart na die ewige
lewe toe.
- Die inhoud van hierdie boek moet ons ken en ons daaraan onderwerp,
anders wek ons die oordeel van God oor ons op.
- Mense wat die inhoud van hierdie boek verwerp of verander, het baie
moeilikheid met die Here. Die laaste woorde van die boek openbaar dit:
Want
ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek
hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae
byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets
van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God
sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en
uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. (Openbaring 22:18-19
AFR53)
Die
eindoordeel sal dan nie ‘n oordeelsdaad vir die gelowiges
wees nie.
- Vir
hulle is dit ‘n genadedaad waarmee hulle heeltemal vrygemaak
word van valsheid.
- Vir
hulle is dit ‘n genadedaad waarmee hulle in die volle rykdom
van God se genade ingaan.
- Die Here openbaar dat hierdie mense swaar trek aan hulle
verantwoordelikheid in hierdie lewe. Dit gaan nie maklik nie, maar
hulle oorwin:
Wie oorwin, sal beklee word met
wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe
nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.
(Openbaring 3:5 AFR53)
Hoor
u die genade?
- Ons wie se name in die Boek van die Lewe staan, glo.
- Vir ons word gebid. Ons name weerklink elke oomblik in die hemel.
- Dit beteken dat die Here Jesus vir ons bid.
- Maar hierdie gebed is terselfdertyd ‘n aankondiging dat ons
op pad is na die ewige troon van God toe.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming
45:12.
Die
Here sal jou seën en jou behoed;
Die
Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die
Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 19 Februarie
2006 (oggend)
Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde
van die profesie van hierdie Boek bewaar. (Openbaring
22:7 AFR53)