Sing
vooraf: Psalm 73:1, 10.
Ons hulp is in die Naam
van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
103:2.
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes
van God
- Algemene bede:
- Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm
25:3, 5.
Skriflesing: Sagaria 5
Teks:
Sagaria 5:8
En hy sê: Dit is die
goddeloosheid. En hy het haar binne-in die efa teruggewerp en die
looddeksel op die opening daarvan gegooi. (Sagaria 5:8 AFR53)
God
bring die goddeloosheid waar dit behoort te wees.
- Hy doen dit op sy tyd en deur sy krag.
- Die Here doen dit nie net tydens die wederkoms en die hiernamaals nie.
- Hy doen dit nou reeds in hierdie lewe al.
In
hierdie naggesig het Sagaria gesien hoe God die kerk heilig maak.
- Daar is sonde en stryd en verkeerde dinge in die kerk.
- Die dinge maak ons baie keer moedeloos, maar u moet weet dat die Here
nie magteloos hierteen staan nie.
- Die Here laat dit net tot op 'n punt toe. Dan gryp die Here in sy kerk
in, en Hy suiwer die kerk van al die kwaad wat daarin is.
Ons
gee in hierdie preek aandag aan die volgende sake:
1.
Die kerk van die tyd.
2. Die boekrol en die vrou.
1.
Die kerk van die tyd.
Die volk wat daar saam met
Sagaria gebly het tussen die puinhope van Jerusalem, was maar net soos
ons.
- Hulle het ook maar presies dieselfde sondes gedoen.
- Al leef ons eeue later, ons doen nie "nuwe" sondes of ander sondes as
daardie mense nie.
Daar
word vertel van booshede wat ons goed ken:
- Diewe was volop.
- Meineed is elke dag gepleeg.
- Die Naam van God is misbruik wanneer hulle vals gesweer het
Mens
sou nie verwag het dat 'n volk wat so swaar beproef was soos hulle, nog
so uittartend sou wees met sondes soos hierdie nie. Daarom laat die
Here Sagaria twee visioene sien:
- Die eerste een is die van 'n vlieënde boekrol.
- Dit preek die vloek wat oor die sondaars in die land sal kom.
- Die visioen daarna, preek dat die Here self die goddeloosheid gaan
verwyder.
U
moet egter goed oplet: Die Here verwyder nie gelowiges wat stry teen
die sonde nie - al doen hulleself ook sonde nie.
- Hy vervloek en verwyder die wat in hulle sondes volhard - die goddelose
mense.
- Hy verwyder die sondes self.
Wanneer
ons hierdie gedeelte in Sagaria lees, val dit ons dadelik op dat hier
'n noodsaak is dat ons onsself moet heilig.
- Dit is duidelik uit hierdie Bybelgedeelte dat dit darem nie onder die
gelowiges gaan soos wat dit behoort te gaan met mense wat die Here ken
en opreg aanbid nie.
- Daarby word die magteloosheid van die mense ook nog hier beskryf: Hulle
kan hulleself nie eers help nie.
- Daarom vertoon hulle so swak teen hulle vyande en teen die sonde.
- As dit ons was, sou ons waarskynlik so moedeloos geword het, dat ons
tou opgegooi het.
Daarom
hierdie naggesigte: Die Here preek vir hulle en vir ons dat Hy self 'n
vloek oor die sondaars uitspreek, en dan die sonde onder sy volk uit
verwyder.
2. Die boekrol en die vrou.
Sagaria
het skaars die wetboek by hom gesien verbyvlieg, of hy sien 'n vrou in
'n efa. Dis 'n merkwaardige naggesig.
- 'n Efa was 'n inhoudsmaat waarmee hulle in daardie tyd koring afgemeet
het.
- Dit het 'n inhoud van so tussen 20 en 30 liters gehad.
- Dit was die grootste maat waarmee hulle gemeet het (Die Bybel praat wel
van 'n gomer, wat groter is, maar dit was nie prakties in gebruik nie).
Die
efa wat Sagaria gesien het in die gesig was seker groter as die gewone
een, sodat dit groot genoeg kon wees dat 'n vrou daarin kon.
- Hierdie een het 'n vrou in, en dan is daar 'n baie swaar looddeksel
bo-op die bek.
Wat
beteken dit? Dit was presies die vraag wat die profeet ook vir die
engel vra. Die engel antwoord dadelik:
Dit
is 'n efa. So lyk hulle in die hele land.
Dit
beteken dat dit die toestand is wat oor die hele land is. Of anders
gestel:
- Dis die siening wat ons moet hê van al die mense wat in die
land bly.
- Die vrou wat in die efa is, is in haar sondes die toonbeeld van die
volk.
- Dit was hoe die kerk van daardie tyd gelyk het.
Wat
is nou so snaaks aan hierdie vrou waarmee die Here sy volk vergelyk?
- Hierdie vrou is die verpersoonliking van die volk se goddeloosheid.
- Die sonde in lewende lywe!
Die
engel huiwer ook nie, want hy sê sommer reguit in vers 8:
Dit
is die goddeloosheid!
Miskien is dit nou vir u
vreemd dat die Bybel hier 'n vrou gebruik om die sondes mee uit te
beeld. Die beeld sluit nogal aan by ander beelde wat in die Ou
Testament voorkom.
- Die Here praat bv. van sonde as weghoereer van die Here af.
- Sonde word ook genoem troubreuk.
- Dikwels word 'n volk se sondes voorgestel as 'n vrou wat haar man
verlaat (dink maar aan Hosea wat juis met 'n hoervrou moes gaan trou om
hom hierdie dinge te laat verstaan).
As
ons hierdie naggesig lees, en ons lees die eerste keer van die vrou in
die efa, dan lyk dit so onskuldig. Maar die saak is eintlik baie
ernstig, want die Here wil iets met 'n sekere dringendheid onder die
volk se aandag bring:
- Sonde is net so algemeen soos wat vrouens is. M.a.w. sonde word vir
baie mense so alledaags dat dit hulle nie eers meer opval nie.
- Die efa sluit daarby aan. Hulle gebruik elke dag die efa. En omdat
hulle daagliks die efa hanteer, sien niemand enige kwaad daarin nie.
- So bekruip die goddeloosheid jou! Die duiwel maak jou so gewoond aan
sonde, dat jy dit later saam doen, sonder dat jy besef dis verkeerd!
Daarom
staan die gevolge van die sonde hier so sterk op die voorgrond:
- korrupsie,
- bedrog,
- meineed
- en diefstal.
En sommer die gevolg daarvan ook:
die toorn van die Here. Dit is die vlieënde boekrol wat oor
die land gaan.
Daar gebeur iets merkwaardigs
terwyl Sagaria daar by die engel staan.
- Die deksel wat op die efa is, word opgelig.
- Die profeet kry kans om te sien wat daar binne-in is.
- Maar terselfdertyd probeer die sonde vrykom van die beperkinge wat God
dit opgelê het. Die vrou probeer ontsnap.
Die
engel gee haar nie kans om te ontsnap nie, want hy pak haar met groot
krag beet, en gooi haar terug in die efa. Daar is geen tyd vir
verskonings nie. Met dieselfde geweld word die deksel weer
teruggeplaas...
Kyk net weer na die beeld.
- Dit moet 'n fyn vroutjie wees wat wat in hierdie efa pas.
- Nou word sy letterlik soos 'n sak rondgegooi deur die engel.
- Sy as vrou is met haar sagte liggaam magteloos teenoor die krag van die
engel wat sterk en manlik is.
NB:
Wat God wil tuisbring, is dit:
- So is die verhouding van die sonde teenoor God.
- Die sonde is van die begin af te swak en kragteloos om hom teen God te
wil verset.
- Die krag van die Here is net doodeenvoudig te veel.
Kan
u die genade sien wat hierdie gedeelte aan ons openbaar?
- God beheer ons lewe.
- Hy keer ook die sonde van ons af weg.
- Hy beperk die sonde met gemak, want Hy is oneindig groter as die sonde.
- Hy bestem dit ook uiteindelik so dat die sonde nie weer sal vryraak
nie, en dus ook nie weer die kerk kan besoedel nie.
Verder
leer hierdie twee gesigte dat God self sy kerk gaan heilig maak. Hoe
gaan dit gebeur? Kyk na die naggesig: Meteens verander die tafereel.
- Daar is nog twee vrouegestaltes - hulle het vlerke
soos sprinkaanvoëls.
- Dit simboliseer dat hulle deur God toegerus is om hulle ver tog met
krag en sekerheid af te lê.
- Die Here gee nog meer hulp aan hulle: die wind is in hulle vlerke. Dit
help nog meer om hulle voort te dra.
- Hulle tel die efa op en dra dit met sy inhoud ver deur die lug. Hulle
bestemming is die land Sinear.
Ons
ken die plek baie goed, want die Bybel praat baie van die plek.
- Sinear is die land van Nimrod. Die Bybel skryf van hom dat hy die
eerste man was wat begin het om 'n geweldenaar te wees. Die eerste
diktator.
- Sinear is ook die land waar die toringbouers vir hulleself 'n naam wou
maak.
- Hierdie naam moes dan tot in ewigheid wees.
- Daardie mense wou die raad van God dwarsboom, en toe het God hulle oor
die aarde verstrooi.
- Sinear is ook die land waarvan Jesaja skryf dat die oorblyfsel van God
se volk hier vrygekoop sal word.
- Nebukadnesar beroof die tempel van die Here, en neem die tempelware na
die afgodstempels van Sinear.
- Dis Babilonië, die land waarvandaan hierdie mense nou net uit
ballingskap teruggekom het.
- In die Bybel staan hierdie plek vir die wêreldmag wat die
vyande van God is.
En
nou word die sonde onder God se volk uit weggeban na hierdie land toe.
Die land is die simbool van die blyplek van die antichris: die hel.
Wat
word van die vrou as sy eers in Sinear is? Ons lees later weer van haar
in die Bybel. In Openbaring 17.
- Daar is sy die moeder van die owerspeliges en van al die gruwels op die
aarde.
- Ons lees daar dat sy dronk is van die bloed van die heiliges, en van
die bloed van die getuies van die Here Jesus Christus.
- Dit is sy en haar mense wat teen die lam oorlog voer, lees ons in vers
14.
- Die Lam sal hulle oorwin, want Hy is die Here van die Here en die
Koning van die konings. En die wat saam met Hom is, is geroepe en
getrou.
Al
hierdie dinge sluit pragtig aan by ons teks en sy prediking. God bring
die goddeloosheid waar dit hoort. In 'n plek buite sy kerk.
Hierdie
naggesig het 'n baie duidelike belofte van die Here Jesus Christus en
sy verlossingswerk.
- Hierdie openbaring voorspel dat Jesus Christus sy kerk gaan heilig maak.
- Met sy wederkoms gaan die heiliging van die kerk voltooi wees, en dan
gaan God self daarna in sy kerk woon.
- In daardie tyd gaan die kerk vir ewig so volmaak wees dat geen sonde
meer daarin gevind word nie, omdat Jesus die sonde en die mag van die
sonde, saam met die duiwel en die dood oorwin het.
- Deur sy oorwinning word al hierdie dinge verseël op 'n plek
buite die kerk.
- Dit word in hierdie naggesig vertel met die vrou wat verseël
word in die efa, en weggeneem word na die plek waar die duiwel hoort.
Maar,
broeders en susters, ons moet een baie belangrike saak onthou:
- Al het die werk van die Here Jesus Christus reeds beslissend
aan die kruis plaasgevind, dit is nog nie finaal voltooi en afgehandel
nie.
- Die Here Jesus Christus het die duiwel beslissend verslaan aan die
kruis, maar die Here wou die duiwel nie toe al verdelg nie. Dit doen Hy
eers met sy wederkoms.
Nou
leef ons tussen hierdie twee punte in die geskiedenis. Die Here Jesus
het die krag van die sonde oorwin, maar daar is nog steeds sonde op die
aarde. Waar pas ek en u nou in?
- In hierdie tyd is die Heilige Gees ons Leidsman.
- Hy laat ons deur God se Woord besef dat die sonde en die ongeregtigheid
onder die kerk uitgeroei gaan word.
- Ons moet weet dat ons die stem van God se Gees net sal kan hoor en
verstaan as ons die openbaring van die Here ken!
- Ons moet dus die inhoud van die Bybel ken - dis al
wanneer ons sal kan ervaar dat die Heilige Gees ons aanmoedig om teen
die sonde te stry.
- Die Heilige Gees praat ons aan en waarsku teen verkeerde dinge.
- Hy laat ons verstaan wat die Here leer in sy Woord.
- Hy leer ons onder andere dat die einde van die dae so boos sal wees as
gevolg van die sonde dat die Here die dae korter gaan maak, terwille
van die wat dan nog glo. (Dis ons tyd, en dis ons wat daar vermaan
word!).
- Ons moet nie deelneem aan verkeerde dinge nie, want die Here gaan die
verkeerde uit sy kerk uitsuiwer, en as ons volhard in die sonde, gaan
ons ook uit die kerk verwyder word.
- As ons hardnekkig volhard in die sonde, sal ons miskien nie in hierdie
lewe al uit die kerk afgesny word nie, maar God sal dit doen in die
oordeelsoomblik as die Here Jesus kom..
Die
naggesig preek die eindoordeel baie sterk.
- Die sonde gaan nie net weggeneem word en dan is alles oor nie.
- Die sonde gaan eers probeer om God se raadsplan te dwarsboom.
- Daarvoor gebruik die sonde mense in die kerk! - Die vrou in die efa. Ek
en jy!
Wat
maak ons van al die dinge?
- Ons besef dat ons 'n goeie kans staan om vernietig te word as ons nie
geloofswakker is nie.
- Die sonde is in ons tyd so algemeen, dat ons maklik daaraan kan
deelneem sonder om te dink - want ons het daaraan
gewoond geword!
Is
ons seker ons verstaan die Bybel altyd reg? Verstaan ons die lewe?
Besef ons wanneer ons foute maak, dat ons daarmee die Here se wet
reëlreg oortree!
Ons het 'n groot
verantwoordelikheid om die Drie-Enige God te heilig. Anders gaan ons
doodgewoon deel wees van die verbanning wanneer die kerk gesuiwer word
deur die Here.
Ons sing:
Wie
ver van U sy weg wil gaan,
stap op 'n
donker afgrond aan.
U roei hul uit wat
U gesmaad het,
in troueloosheid U
verlaat het.
Maar dis my goed, my
saalge lot,
as ek naby is by my God.
Ek
het my hoop op God gestel,
om al sy
werke te vertel.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm
86:3.
Die Here
sal jou seën en jou behoed;
Die Here
sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die
Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 26 Februarie 2006 (aand).