Sing Vooraf:
Skrifberyming 1-1:3 (24);
Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en
teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 84:1, 2
Geloofsbelydenis Apostolicum
Wet
Skrifberyming 9-1:11 (26)
Gebed.
Psalm 51:3
Skriflesing: Spreuke 1.
Teks: Spreuke 1:7
Die
vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag
wysheid en tug. (Spreuke 1:7 AFR53)
Wysheid en dissipline gaan altyd saam: Elke mens leer deur getug te
word wanneer hy verkeerd doen. En presies so gaan dit met die wysheid
van God.
- ‘n Wyse mens is een wat getug kan word, en wat dan daaruit
leer.
- ‘n Dwaas is iemand wat getug word oor sy dwaasheid, en dan
verag hy die tug, en hy leer niks daaruit nie.
Ons teksvers is die kern van die hele boek Spreuke.
In alles wat Salomo skryf, gaan dit daaroor dat ons die wysheid van die
Here kan leer. Die beginsel is dus presies dieselfde as waarvan ons in
die Nuwe Testament lees in 1 Timotheus 4:7.
Maar
verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die
godsaligheid. Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die
godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die
teenwoordige en die toekomende lewe het. (1 Timoteus 4:7-8 AFR53)
Wysheid is om jou te oefen in die godsaligheid, want dis juis die
wysheid wat jou laat besef dat daar ‘n ryke toekoms anderkant
hierdie lewe is, en dat hy nou-al daaraan aandag moet skenk!
- Wysheid is meer as gewone kennis.
- Wysheid is om te luister na die goddelike vermaning.
- Wysheid is om ‘n lewe van dankbaarheid aan God te gee vir
die
groot genade wat Hy aan ons gegee het, deur ons ons sondes te vergewe.
In vers 1 en 2 skryf Salomo die rede waarom hy hierdie spreuke skryf.
- Hy wil hê dat ons deur hierdie spreuke wysheid en tug moet
leer ken.
- Ook sodat ons woorde van insig kan begryp wanneer ons dit hoor.
- Die bedoeling van die Here is dus dat almal wat hierdie Spreuke
sal
lees, tot hierdie kennis en insig sal kom.
Die woord ken
hier, beteken veel meer as net om te weet.
- Dit beteken om die wysheid van God te kan begryp.
- Dit beteken om iets te weet, en om dan vas en stewig in jou
verstand te
wees oor hierdie saak.
Ons kry ook hierdie selfde woord in 1 Konings 7:14 waar daar van Hiram
geskryf word dat hy vol wysheid en kennis en verstand was om allerhande
werk in koper te maak.
- Ken het dus ook die betekenis van ervaring en bekwaamheid om die
regte
ding te kan doen.
- Wat uit al hierdie gedeeltes blyk, is dat hierdie ken ‘n
gawe
is wat van God af gegee word.
- Hy gee
die wysheid om kundig te kan lewe en werk.
- Dus ook
die wysheid om met ‘n vaste en kundige geloof te kan lewe.
Die wysheid wat die Here ons hier leer, is ‘n wysheid wat
prakties in ons daaglikse lewe na vore moet kom.
- Dis ‘n wysheid waarin ons weet dat ons doel in die lewe is
om
God te verheerlik, en daarom laat die wysheid ons alles in die lewe so
doen, dat ons die doel van ons lewe bereik.
- Wysheid is ‘n deel van die beeld van God wat ons as sy
kinders dra.
- Daarom
moet ons onsself toets. Is my wysheid soos die wysheid van God? Of
verskil my wysheid van God s’n?
- Dit gaan
bepaal of my wysheid werklik wysheid is, en of ek ‘n dwaas is
wat in my eie wyshede verstrik geraak het.
Die Here laat ons hier besef dat die lewe ‘n groot kuns is:
- ‘n Kuns om te leer en te verstaan, maar ook om te onderskei
op watter sake dit telkens aankom.
- Daarom praat die Here ook hier van tug. Straf. Wie sou nou dink
dat dit
belangrik is om tug te ken? Wat is tug? Wanneer tug die Here, en waarom?
Die eerste belangrike feit om te weet is dat tug by die Here altyd
gekoppel word aan liefde.
- Die Here straf net die wat Hy liefhet, sodat hulle uit hulle
foute moet
leer, en hulle bekeer.
- Die wat God nie liefhet nie, hulle verdelg Hy. Daar is ‘n
groot verskil tussen tug en vernietig.
Die woord tug kan die volgende beteken:
- Dit kan beteken om iemand te kasty, en om iemand tereg te wys.
- Maar tug word in die Bybel net gebruik waar God van iemand verwag
het
om gehoor te gee aan sy teregwysing.
- Dit raak dus iemand wat in staat is om selfbeheersing aan die dag
te
lê t.o.v. die sonde wat hy gedoen het, en waaroor hy nou deur
die tug van die Here tereggewys word.
Vers 3 stel weer die tug baie duidelik voorop: om tug aan te neem wat
verstandig maak.
M.a.w. om al klaar uit die eerste spreuk te leer dat God net die wat Hy
liefhet tug, en dan daaruit die ware wysheid van die Here te kan leer.
- Vers 3 gaan dan verder om te vertel dat die tug lei tot
geregtigheid en
reg en regverdigheid.
- Hiermee staan Jesus se samevatting van die tien gebooie in die
Nuwe
Testament baie helder voor ons:
Jy
moet God liefhê met jou hele siel, jou hele verstand en al
jou kragte, en daarmee gelyk dat jy jou naaste moet liefhê
soos jouself.
- Wat is dit anders as om die
geregtigheid, reg en regverdigheid van God
te besit, en dit dan te beoefen teenoor God en jou naaste?
Hierdie reg is dus iets wat ons begryp wanneer God jou tug.
- Ons verstaan waaroor die straf van God gaan, en ons weet dan wat
by God
reg en verkeerd is.
- Dus: ons verkry wysheid. God se reg vestig homself binne in jou,
en nou
lewe ons dit na buite toe uit.
Dit is ‘n treffende mens wat
sonder aanstoot kan lewe, en nie
een van sy beginsels prysgee nie. Wat net die reg en geregtigheid van
God toepas in sy lewe en geloof. Wie se lewe en geloof ‘n
eenheid vorm, soos wat dit behoort te wees.
Vers 4 gaan nog verder:
…om
aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die
jongeling kennis en oorleg; (Spreuke 1:4 AFR53)
‘n Jongmens is ‘n onervarene. Ons was self ook so
in ons jeug.
- ‘n Jongeling wil hom nie laat reghelp nie, want in sy
gebrek
aan ervaring dink hy dat hy alles weet.
- Nou sê die Here dat Hy hierdie spreuke ook vir hulle skrywe
sodat hulle kennis en oorleg kan kry.
Kom ons kyk eers wie is ‘n eenvoudige waarvan hierdie
Bybelvers praat:
- Dis nie ‘n dom mens van wie God hier praat nie. Hulle het
ook
wysheid.
- Die Bybel bedoel met die woord eenvoudige
iemand wat maklik verlei kan
word.
- Iemand
wat so eenvoudig is dat hy enige een napraat.
- ‘n Naïewe soort mens wat nie
onderskeidingsvermoë het nie.
- Iemand
wat nie behoorlik kan onderskei tussen wat goed en reg, en wat verkeerd
is nie: Alles wat op ‘n oortuigende manier vir hom
gesê word, dit glo hy en doen hy, omdat hyself dit nie kan
toets nie.
Sulke mense leer by God
skranderheid. M.a.w. hulle kry by God die
wysheid om te weet wanneer dinge reg is, en wanneer dit verkeerd is.
In hierdie teksvers plaas die Here self hierdie eenvoudiges en die
jongmense op een lyn.
Nie om hulle daarmee te beledig nie, maar juis om God se besorgdheid
oor hulle uit te spreek.
- Hy is bekommerd oor hierdie kinders van Hom, en Hy doen nou die
moeite
om aan hulle skranderheid, kennis en oorleg te gee.
- Die Here self sorg dat hulle afgesny word van die verkeerde
invloede
wat daar op hulle mag kom.
- Die slim mense self moet ook luister na wat God sê. Dis
vers
5.
- Slimmes
het mos die kwaal om te meen ons het genoeg verstand, en dan wil ons
vir niemand luister nie. Nou sê God dat ons verstand daarby
sal baat as ons vir Hom luister, want ons kennis sal vermeerder.
Dan kom die Here by vers 7. Van vers 1 af tot by vers 6 leer die Here
ons dat daar twee paaie is.
- Die pad van die verderf, waarin ons nie genoeg wysheid het nie.
- Die pad
waarin ons verlei word.
- Die pad
waar ‘n mens gestraf word as ons fouteer, maar ons weier om
te luister.
- Die ander weg is om wysheid te hê, en voortdurend jouself
aan
God te onderwerp, en om jouself nie te verhard teen sy tugtiginge nie.
Die vrees van die HERE is die beginsel
van die kennis; sotte
verag wysheid en tug.
Hoor ons as God met ons praat? Vrees ons die Here? Vrees beteken hier
om eerbied te hê. Dus: het ons eerbied vir die HERE?
- Eerbied is die begin van ware wysheid, want jou eerbied vir God
gaan
bepaal of ons begeer om in die hiernamaals by Hom in die hemel te wees.
- Niemand van ons wil tog in die hel wees nie, want ons het nie
eerbied
vir die Satan nie. Maar het ons eerbied vir God?
‘n Sot – so leer die Bybel - is een wat God minag.
- Dit is iemand wat deur die Here tereggewys word omdat hy verkeerd
is,
maar die sot word daaruit niks wys nie. Hy draai om en verag die straf
wat God oor hom bring.
- Dit is hulle wat met die stories rondloop dat hulle nie verdien
om so
gestraf te word nie, want hulle weier om hulleself te ondersoek.
- Hulle is
altyd reg, en die fout moet by God en by ander mense lê.
- Hulle mis
die beginsel van vrees en eerbied vir die Here, en mis daarmee saam die
hemel.
Hierdie hele boek Spreuke wys na Christus toe. In Hom is die wysheid
van God aan ons geopenbaar.
- Hy het gekom om vir ons te sterf, want God het in sy wysheid
besef dat
ons met ons eie kragte nie een ooit in die hemel kan kom nie, al wil
ons ook hoe graag, want ons is te sondig.
- Maar in Hom het God ook geopenbaar dat ons vir God eerbied moet
hê.
- So gebeur
dit dat Jesus deur Gadara loop. ‘n Duiwelbesetene skreeu vir
Jesus dat sy naam Legio is: Tienduisend duiwels -- dis die betekenis.
- Uiteindelik smeek hierdie legioen duiwels by Christus vir
genade en vir
toestemming om in die varke te mag vaar.
- As
tienduisend duiwels vrees, hoeveel te meer moet ek en jy nie vrees nie.
Dit is die beginsel van wysheid.
Jesus leer dat Hy ons uit die dood gaan opwek - sommiges tot die ewige
lewe en ander tot die ewige dood. Is dit nie rede vir vrees en eerbied
nie?
- Dit is presies wat in Spreuke staan: Die vrees van die HERE is
die
beginsel van kennis.
- Maar die tweede helfte van ons teksvers het ook betrekking op
Jesus
Christus, want in Hom openbaar God ook die donker weg. Ons sluit dan
ons belydenis oor Christus af met die woorde dat Hy kom om te oordeel!
Jesus veroordeel elkeen wat sy woorde hoor en nie glo nie.
Die Heilige Gees woon in ons. Vir dieselfde twee redes:
- om ons die wysheid van God te leer,
- en om ons tot selfontdekking in ons sondes te lei wanneer God ons
tug.
Dit alles sodat ons ons kan bekeer en tot eer van God kan lewe.
Die
vrees van die HERE is die beginsel van die kennis ; sotte
verag wysheid en tug.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 73:7, 9, 10
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr.
M.J. du Plessis
Gereformeerde
Kerk Bellville
Datum:
30 Januarie 2005 (oggend)