Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus
deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 33:1, 3.
Gebed.
Psalm 84:1, 2.
Skriflesing: Titus 2
Teks: Kategismus Sondag 26; Titus 2:11-14.
Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn
en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën,
ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,
terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van
die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons
gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself 'n volk
as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke. (Titus 2:11-14 AFR1953)
Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn.
- Ons lees in hoofstuk 1:12 dat dit selfs verskyn het aan die Kretensers
van wie daar in die Bybel getuig word dat hulle altyd luiaards.
- Daarby is hulle ongediertes en lui buike - leer die Bybel.
- Maar die reddende genade het juis aan hulle verskyn om hulle op te wek tot ‘n heilige lewe.
‘n Heilige Lewe kom nie sommer vanself nie.
- Die redding van God het in Christus aan alle mense verskyn, maar ons moet dit ook vir onsself toe-eien!
- Dit beteken ook dat ons (alle mense) daarin onderrig moet word, sodat ons tot ‘n ware christelike lewe kan kom.
Kyk hoe stel die Bybel dit:
- Dis juis vers 12 waarin daar geskryf staan dat ons hierdie dinge geleer moet word.
- Vers 13 leer dat ons moet hoop op die verlossing by die verskyning van Jesus Christus.
- Vers 14 sluit daarby aan deur daarop te wysdat ons ‘n verantwoordelikheid het wat ons moet nakom terwyl ons wag:
- Ons moet yweruig wees in goeie werke
- Dis waarvoor Christus ons gereinig het
Al hierdie sake sluit aan by die doop. Dink daaroor: Hoe het Jesus Christus
onsgereinig tot sy eiendom, soos dit hier geskryf staan?
Die doop gebruik twee beelde om die reinigmaking te verduidelik:
- Die eerste een is die beeld vn die reiniging van die liggaam.
- Dit gaan hier oor die water wat gebruik word wanneer iemand gedoop word.
- Ons gebruik water omdat dit die ding is waarmee ons bad/stort wanneer ons ligame vuil is.
- Die tweede beeld is die beeld van die reiniging van alle sondesmet.
- Net soos wat water ons ligame skoon was wanneer ons bad -
so leer ons belydensskrifte - was die bloed van die Here Jesus
Christus ons geestelik skoon.
Saamgevat: Water beeld uit hoe ons uitwendig skoongewas word en die doop beeld uit hoe ons inwendig skoongewas word.
Lees wat staan in 1 Petrus 3:21 geskryf:
…waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie
as 'n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as 'n bede tot God
om 'n goeie gewete - deur die opstanding van Jesus Christus (1 Petrus 3:21 AFR1953)
Hierdie betrokke teks word baie min kere aangehaal in gesprekke oor die doop.
Daarom is dit goed dat ons let op wat hier geskryf staan.
- Die belangrikste feit wat hier vermeld word, is die feit dat die doop nie self saligmakend is nie.
- Die doop is nie ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie.
Daarom is nie alleen die doopopdrag aan die dissipels gegee nie.
- Ons lees in Matteus 28:19 dat die Here Jesus aan die dissipels die
opdrag gee om dissipels te gaan maak van al die nasies en om hulle te doop
in die Naam van die Drie-Enige God.
- MAAR dan staan daarby geskryf dt hulle geleer moet word om dit alles te onderhou!
- Leer hulle! Daar is ‘n taak aan die doop gekoppel: Leer diegene wat gedoop word.
- Kom ons praat reguit: ons wat almal die eed teenoor God afgelê
het dat ons ons kinders sal leer wat die volle inhoud van die Evangelie is,
onder hou ons dit?
- Verlede Sondag het ons die heilige Nagmaal gevier. Hoeveel
van ons het die kinders by die huis gelos, sodat dit vir ons makliker is
om die Nagmaal te vier? Hulle moes hier gewees het om te kon sien en
te kon leer wat alles by die Nagmaal gebeur.
Die doop is ‘n heilige en sigbare waarteken en seël dat ons verlos word
van al ons sondes deur Jesus Christus. Daarom mag die doop en die Nagmaal
nie losgemaak word van die prediking /Woordverkondiging af nie.
Dis presies wat in Titus 2:12 staan:
…en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede
te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld
te lewe, (Titus 2:12 AFR1953)
- Ons moet geleer word om die goddeloosheid en die wêreldse begeerlikhede te verloën.
- En ons moet geleer word om regverdig te lewe.
As ons hierdie dinge so lees en begryp wat die Here ons alles leer, is dit
tog asof daar ‘n vrees wil ontstaan dat ons baie moeilik by die oordeel van
God gaan verbykom.
Let ook op dat daar ‘n dubbelde weldaad in die doop opgesluit lê:
- Die vergewing van sondes.
- Daarmee saam die vernuwing van die lewe.
Kom ons stel dit anders:
- Die doop leer dat God ons regverdig verklaar in Jesus Christus.
- En dit leer dat God ons heilig maak.
- Hy doen dit nou reeds - in hierdie lewe, maar ons sal die volmaaktheid eers in die hiernamaals ten volle bereik.
Vergewing van sondes en ‘n nuwe lewe gaan hand aan hand. Dit bring ons vanselfsprekend terug by ons doopsbelofte.
- Hoe kan dit wees dat ‘n mens so skynheilig kan wees dat ons ‘n verbondskind
voor die gemeente vir God kom hou dat Hy sy verbond met hierdie kind bevestig
- maar dan voed ons hom sonder God op?
- Ons verantwoordelikheid is dat ons en ons kinders voortdurend op ons knieë voor God moet wees.
- Net die wete dat ek sonder verdienste deur Jesus Christus reingewas is, moet ons al tot heilige gehoorsaamheid beweeg.
- Dis tog onmoontlik dat ons kan glo dat ons verlos is, maar weier om
te luister as God die Heilige Gees ons aanspreek tot ‘n heilige en gehoorsame
dankbaarheidslewe!
Om gedoop te wees, beteken dat God aan jou bevestig dat jy reeds saam met
Christus in die dood begrawe is, en ook reeds saam met Hom opgewek is.
Dit staan geskrywe in Kolossense 2:13 dat Hy ons saam met Hom lewend gemaak
het toe Hy ons ons misdade vergewe het. Luister net na hierdie rykdom
van troos.
En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid
van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die
misdade vergeef het, (Kolossense 2:13 AFR1953)
Ek hoef nie eers bang te wees om dood te gaan nie, want in my doop het God
my reeds die versekering gegee dat ek by Hom is wanneer ek my asem hier uitblaas,
want Christus het my al by voorbaat tot die ewige lewe opgewek.
Let op na die dubbelde belofte waarin die reddende genade van God in die
doop beseël word. In ons belydenis staan daar ‘n vraag wat vra: Hoe
word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige
offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?
- Dit gaan gaan hier oor die Heilige Woord van God - die Evangelie van verlossing deur die Here Jesus Christus.
- Die Evangelie beloof in die Ou Testament ‘n Verlosser
- en in die Nuwe Testament staan die koms en die werke van die Verlosser opgeteken.
- Die belofte en die vervulling is dat hierdie Verlosser ons rein voor God stel.
- Daarby gaan dit oor die sakrament self, die instelling van die doop.
- In die doop word hierdie belofte verseël.
- In die doop bevestig God die verlossingskontrak (verbond) met ons dat Hy sy belofte gestand gedoen het.
- Hy handhaaf sy verbond met ons.
- Hy bly ons God, selfs al is ons deur ons sondes te onwaardig om die
verbond van ons kant af te bly handhaaf - en al verbeur ons na
regte al die beloftes van die verbond as gevolg van al die smet wat aan ons
vassit.
Dan kom God en Hy bevestig hierdie verbond van Hom met water wat Hy as ‘n
simbool neem en aan almal sigbaar leer dat ons sondes van ons afgewas word.
Daar gebeur inderdaad twee dinge:
- Ons ontvang genade.
- God gee vir ons genade: Hy was ons skoon en vlekkeloos in die bloed van sy Seun.
Let op:
- Die doop verseker ons daarvan dat God ons reinig in die bloed van Christus,
- maar dit belas ons ook met verantwoordelikheid:
- Ons moet nou luister na God.
- Ons moet ‘n heilige lewe lei.
- Ons moet die geslagte wat uit ons gebore word, hierdie heilige gehoorsaamheid leer.
Hierdie sakrament leer oordeel en verlossing: Die Here se dood het ook al iets daarvan openbaar.
- Die een rower aan die kruis is verlos en die een het verlore gegaan.
- Die een het sy skuld bely en Jesus as die Here bely en is gered.
- Die ander een het met Jesus se Godheid gespot en aan sy sondes vasgehou.
- Die doop preek ook dat ons hierdie verlossing moet gehoorsaam en daarin
deel, of die Here gaan ons verdelg as ons ongehoorsaam is.
Waar is ons? Ons is gedoop.
- Dit beteken God het baie vroeg in ons lewens al sy versekering gegee dat Hy ons geheilig het as sy eiendom.
- Al wat ons moet doen, is om hierin te lewe.
Kom ons lees Kategismus Sondag 26 saam.
Vraag 69: Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan
verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?
Antwoord: So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel
(a). Daarby het Hy beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed en Gees
van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is (c) as
wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam
wegneem.
(a)Matt 28:19. (b) Matt 28:19; Mark 16:16; Hand 2:38;
Joh 1:33; Matt 3:11; Rom 6:3, 4. (c) 1 Pet 3:21;
Mark 1:4; Luk 3:3.
Vraag 70: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?
Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade
te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die
kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe
en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe
meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).
(a)Heb 12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag 13:1;
Eseg 36:25. (b) Joh 1:33; 3:5; 1 Kor 6:11; 12:13;
Rom 6:4; Kol 2:12.
Vraag 71: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker
met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?
Antwoord: Met die instelling van die doop wat soos volg lui:
"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam
van die Vader en die Seun en die Heilige Gees..." (Matt 28:19); en:
"Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie,
sal veroordeel word" (Mark 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal
waar die Skrif die doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van
die sondes noem (Tit 3:5; Hand 22:16).
Amen.
Slotgebed.
Hoe kan ons U reg dank vir al U genade?
Wat kan ons U bring vir al U reddingsdade, Here ons ewige God en Vader?
Ons skiet tekort in verstand en kragte. Daarom bid ons eenvoudig net
dit: Sal U ons waardig maak aan alles wat U aan ons skenk?
Lei ons vanaand ook weer veilig huis toe, en laat ons hierdie week heilig
deur ons dae gaan. Bring ons weer volgende week saam rondom U Woord.
Ons vra dit uit genade alleen.
Amen.
Slotpsalm 23:1, 3.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 8 Augustus 2002